ADVERTISEMENT:

 

Dominee tuis na buffelaanval

 

News  Date: 03 August 2007

 

Die operasie wat ds. Anton Kemp, NG-predikant op Musina, moes ondergaan nadat hy op 11 Julie deur ‘n gekweste buffel gekarnuffel is, was suksesvol en hy sterk tans goed aan.

Ds. Kemp is op 14 Julie in die Unitas Hospitaal in Pretoria opgeneem, nadat sy toestand versleg het as gevolg van beserings wat hy opgedoen het toe die buffel hom op ‘n wildsplaas naby Musina aangeval het. Hy het ‘n jaggeselskap vergesel wat na die gekweste buffel gaan soek het.

Ds. Kemp het vandeesweek aan die Zoutpansberger gesê dat, alhoewel hy steeds in baie pyn is weens gebreekte ribbes en ander kneusplekke, dit goed gaan met hom en dat hy reeds Saterdag uit die hospitaal ontslaan is. Hy het Maandag weer begin werk, maar mag egter vir die volgende drie weke nie bestuur nie. Sy gebreekte ribbes sal sowat ses weke neem om te herstel.

Ds. Kemp is dankbaar dat hy sy onderonsie met die buffel oorleef het en sê hy het tydens die aanval vas geglo dat sy tyd op aarde verby was. Hy voeg by dat hy in daardie stadium teleurgesteld was dat hy op só ‘n manier moes doodgaan.

Ds. Kemp is ook dankbaar vir die hulp en ondersteuning wat hy vanaf die Musina-gemeenskap ontvang het, veral dié wat na Pretoria gery het om vir hom te gaan kuier. Hy sê hyself was nie regtig bewus van hoe ernstig sy beserings eers was nie, maar dat die gemeenskap se hulp hom deurgehelp het. Hy het ook groot lof gehad vir die wildplaasbestuur se vinnige optrede en die professionele optrede van die mediese personeel.

Ds. Kemp het afgesluit deur te sê mens moet nooit sê ‘dit sal nie met my gebeur nie’, aangesien niemand gevrywaar word van die dood nie en dat die lewe ten volle benut moet word terwyl dit nog daar is.

 

Written by

Riaan de Swardt

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines