ADVERTISEMENT:

 

Boere mag verbode immigrante arresteer

 

News  Date: 10 August 2007

 

Die Minister van Veiligheid en Sekuriteit is vandeesweek versoek om in te gryp in wat beskryf word as die misplaaste prioriteite, onkunde en vyandiggesindheid van die SAPD in Limpopo.

Uitlatings deur die provinsie se polisiekommissaris, Calvin Sengani, is deur woordvoerders as kwaadwillig en onkundig beskryf. Mediaberigte oor onlangse polisie optrede en uitlatings wat gemaak is tydens ‘n polisie mediakonferensie op Musina op Woensdag, 1 Augustus, het skerp reaksie uit verskeie oorde ontlok.

Minister moet ingryp

Die hoofwoordvoerder van veiligheid en sekuriteit van die VF Plus, mnr. Pieter Groenewald, sê die Minister van Veiligheid en Sekuriteit, mnr. Charles Nqakula, moet met die instroming van verbode immigrante in Limpopo ingryp.

"Sy provinsiale kommissaris, Calvin Sengani, is duidelik onbevoeg om die situasie te hanteer met sy dreigement dat hy boere sal arresteer wat verbode immigrante op hul plase aankeer. Aan die een kant beskuldig Nqakula en President Mbeki die publiek dat hulle niks doen om misdaad te bestry nie, en wanneer die publiek wel optree, word hulle gedreig met arrestasie," sê Groenewald. Hy sê Sengani se stelling dat boere eers kan optree indien die verbode immigrante misdaad pleeg, getuig van onkunde. Om ‘n verbode immigrant te wees is opsigself ‘n kriminele oortreding. Onwettige betreding van eiendom is ook ‘n misdryf.

"Kennis oor landswette skokkend"

Die TLU SA Noord het met kommer kennis geneem van die uitsprake wat aan die provinsiale kommissaris toegeskryf word.

Die voorsitter van die Nasionale Veiligheidskomitee van TLU SA, mnr. Gideon Meiring, het met verbasing gereageer op kommissaris Sengani se verklaring dat die boere en media die Zimbabwe situasie buite verband plaas. Hy sê volgens Sengani word statistieke wat deur lede van TLU SA verskaf word, opgeblaas. Volgens berigte het die provinsiale kommissaris self geweier om statistieke van die SAPD beskikbaar te stel. Mnr. Meiring het egter daarop gewys dat die SAPD tydens ‘n amptelike verklaring ‘n paar dae gelede beweer het dat 6 000 onwettige persone binne die bestek van twee weke gearresteer is.

"Wat TLU SA Noord betref is daar ‘n dramatiese toename in vreemdelinge verkeer," sê Meiring.

Oor Sengani se beweerde uitspraak en dreigement dat dit geen oortreding is vir enigiemand om oor die landsgrens te beweeg nie en dat hy (Sengani) boere wat teen sulke mense optree sal arresteer, het Meiring gesê dit wek ernstige kommer, aangesien dit dui op ‘n skokkende gebrek aan kennis en insig ten opsigte van die Suid-Afrikaanse landswette. Ingevolge die huidige wetgewing stel grondeienaars hulself inderdaad bloot aan vervolging as hulle nie optree teen onwettige immigrante nie. Dit is onwettig om die land binne te kom by enige ander plek as by ‘n wettige grenspos. Die huidige Immigrasie Wet, Wet 13 van 2002, sê indien sodanige persoon binne Suid-Afrika se grense aangetref word, moet sodanige persoon in besit wees van ‘n tydelike permit of paspoort. Artikel 38(5) van die wet sê as so ‘n persoon op ‘n besigheidsperseel of plaas aangetref word, word dit geag dat die eienaar van die perseel die vreemdeling onwettig in diens geneem het en beheer oor die vreemdeling het. Artikel 42 van dieselfde wet verbied uitdruklik enige hulp, ondersteuning, vervoer of huisvesting van sulke onwettige immigrante. Meiring sê die vraag kan gevra word of die SAPD die baie vervoermiddels van onwettige immigrante, soos taxis en swaarvoertuie, wel binne die wet hanteer?

Meiring sê die Grondwet van Suid-Afrika (Artikel 205(3)) sê baie duidelik dat die SAPD daar is om misdaad te beveg, te ondersoek en om die publieke orde te handhaaf, om die inwoners en hul eiendom te beskerm en om wet en orde in stand te hou. Hy sê in terme van hierdie wetgewing skiet die SAPD dramaties te kort en word die burgery verplig om toenemend dié rol en funksie oor te neem.

Deur betrokke te raak op georganiseerde wyse, gee die TLU SA Noord bloot uitvoering aan die aanhoudende oproepe van die President en die Nasionale Minister van Veiligheid en Sekuriteit dat die gemeenskap betrokke moet raak by misdaadvoorkoming.

"Die TLU SA Noord is op rekord dat ons graag, wanneer en waar moontlik, met die SAPD saamwerk. Dit is dus verstommend om die huidige antagonisme vanaf die kant van die SAPD in Limpopo gade te slaan rondom die aktiwiteite van TLU SA Noord," sê Meiring.

Wat sê die wet

‘n Senior regskundige, wat vir die doel van hierdie artikel anoniem wil bly, sê in reaksie op ‘n berig in die nasionale media die verklaring dat boere op hul plase net onwettige immigrante mag arresteer as sodanige immigrante alreeds ‘n misdaad van verkragting, moord, roof of huisbraak gepleeg het, is foutief. Artikel 42(3) van die Strafproseswet, Wet 51 van 1977 bepaal: "the owner, lawful occupier or person in charge of property on or in respect of which any person is found committing any offense, and any person authorized thereto by such owner, occupier or person in charge, may, without warrant arrest the person so found."

Ingevolge die Immigrasie Wet 2002, Wet 13 van 2002, is dit ‘n misdaad om die Republiek van Suid-Afrika binne te kom sonder die nodige dokumentasie. Dit is ook ‘n misdaad om sonder toestemming te betree op eiendom (Artikel 1 van die Wet op Oortreding, Wet 6 van 1959). Die straf daarvoor is ‘n boete van R2 000 of twee jaar tronkstraf of beide (Artikel 2 van Wet van 1959).

Die kundige sê dit spreek vanself dat die reg om sonder ‘n lasbrief te arresteer met groot omsigtigheid uitgevoer moet word. Groot versigtigheid moet by die gebruik van ‘n vuurwapen aan die dag gelê word. Dit gaan enersyds oor die afweeg van belange. Onregmatige oortreding op ‘n perseel is ‘n uiters geringe oortreding as dit afgeweeg word teen ‘n persoon se liggaamlike integriteit of selfs sy lewe. Dieselfde geld vir ‘n oortreding van die immigrasiewetgewing. Die posisie van die persoon wat gearresteer word, moet nie uit die hoek beskou word dat hy ‘n ernstige misdaad sal of kon pleeg nie. Totdat daar getuienis is dat hy ‘n ander ernstige misdaad gepleeg het, of dat hy op die punt staan om so ‘n misdaad te pleeg, is hy slegs ‘n onwettige immigrant wat sonder toestemming op die boer se grond oortree. Hy kan selfs ook ‘n Suid-Afrikaanse burger wees wat slegs onwettig op die boer se grond betree.

Dit is nie moontlik om ‘n stel reëls neer te lê oor die hoeveelheid geweld wat by ‘n arrestasie gebruik mag word nie. Maar dit kan gemeld word dat morele regverdiging vir ernstige liggaamlike leed net in die uiterste gevalle en waar ernstige misdade gepleeg word, toelaatbaar is. Om ‘n mens se lewe te ontneem of om ernstige liggaamlike leed aan te doen, kan nie geregverdig word deur misdade soos betreding en die oortreding van die Immigrasie Wet nie.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines