

ADVERTISEMENT:

News Date: 10 August 2007
‘n Paar inwoners is hierdie week uit van hul swaarverdiende geld bedrieg in wat deur baie beskryf word as die beste en mees oorspronklike slenter tot op hede.
Twee vriendinne het Maandagaand gekuier en mekaar vertel van die dag se gebeure. Die een vriendin het begin vertel van ‘n man wat histeries by haar werk opgedaag het met ‘n versoek om hulp om na sy erg beseerde seun in die Polokwane Provinsiale hospitaal te gaan. Halfpad deur die gesprek het die ander vriendin haar onderbreek en sommer toe maar die storie klaar vertel, want dieselfde het met haar gebeur.
Die een vrou het aan die Zoutpansberger vertel dat die man by haar kantoor opgedaag het en spesifiek vir haar gevra het.
"Hy het my op my naam geroep en gesê iemand het hom na my verwys," vertel die vrou. Die man het haar meegedeel dat hy ‘n skoolhoof by ‘n swart skooltjie buite Musina was en dat hy onderweg was na ‘n departementele vergadering op Louis Trichardt, toe hy nuus ontvang het dat sy seun, ‘n regstudent nogal, vroeër die oggend in ‘n noodlottige ongeluk waarin een persoon gesterf het in die Soutpansberg Bergpas betrokke was. In daardie stadium het hy slegs versoek om die telefoon te gebruik om die provinsiale hospitaal te skakel.
"Hy was bleek en het gebewe. Ek kon sien hy was in ‘n toestand. Ek het self die nommer van die provinsiale hospitaal in Polokwane opgesoek in die telefoonboek en die nommer geskakel," vertel die vrou. Die man het daarna met ‘n persoon aan die ander kant gepraat.
"Ek kon hoor hy praat van die ongeluk, sy seun en die trauma eenheid. Daar was stories van ribbes deur die longe en komplikasies. Toe hy neersit het hy gesê daar is ‘n probleem met sy mediese fonds en dat hy self moes deurjaag Polokwane toe om te teken dat sy seun onmiddelik geopereer kan word. Hy het gesê hy het geld, maar dit was in ‘n kluis by die skool en aangesien hy met ‘n saamrygeleentheid tot op Louis Trichardt gekom het, het hy nie toegang daartoe gehad nie," vertel die vrou.
Die vrou het toe maar die laaste R55 uit haar beursie gehaal en dit vir die man gegee, wat haastig daar weg is na "sy seun in die hospitaal".
Groot was die vrou se verbasing toe haar vriendin later die aand dieselfde storie vertel.
"Weet jy, ek het soveel deernis vir die man gehad. Ek het hom selfs taxistaanplek toe geneem sodat hy vinniger in Polokwane kon kom. Diep binne in my wil ek tog glo dat die man die waarheid gepraat het," vertel die ander vrou. Die man het ‘n paar honderd rand daar weg, nadat hy ook gesê het ‘n wit vrou het hom na haar verwys.
Oproepe na die hospitaal in Polokwane ná die tyd kon niks oplewer nie. Daar was blykbaar nooit so ‘n geval gewees nie. Die brandweer op Louis Trichardt het ook geen rekord van enige so ‘n ernstige ongeluk, wat nogals in detail deur die man aan die vroue verduidelik is, nie.
Of dit ‘n slenter was of nie – wie weet. Mense word egter maar versoek om bedag te wees op soortgelyke besoeke. Die saak is intussen onder die aandag gebring van die polisie.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
