

ADVERTISEMENT:

News Date: 10 August 2007
‘n Eenvoudige, maar belangrike waaierband breek en munisipale rompslomp kan verhinder dat dit vinnig vervang word. Wat gebeur as peperduur pompe by pompstasies dringend vervang moet word?
Die krisis waarin die dorp verkeer ten opsigte van bestuur en instandhouding spiraal klaarblyklik buite beheer. In ‘n baie komplekse probleem is gebrek aan kundigheid, instandhouding en beplanning al genoem as faktore wat die saak vererger. Geld van die belastingbetaler beland ook onnodig in die sakke van die sogenaamde spookagente. Dan is daar ook die ingewikkelde en tydrowende kwotasie- en tenderprosedures en omslagtige verkrygingsbeleid wat ‘n rol speel in die ooglopende verval van dienste.
Neem die waaierband as ‘n voorbeeld. Dit sal ‘n persoon normaalweg ‘n halfuur neem om ‘n ander waaierband te gaan koop. Met die rompslomp kan die proses in die munisipaliteit weke en selfs maande neem. Die databasis van verskaffers wat deur die munisipaliteit gebruik word, maak die proses glo meer ingewikkeld.
Wanneer duurder toerusting soos ‘n pomp van R150 000 by ‘n rioolpompstasie vervang moet word, is dit eers ‘n storie. Duur items en dienste moet op tender uitgaan. Volgens inligting kan ‘n aanvraag vir dringende toerusting maande op ‘n tafel lê. Daar is uiteraard ook nie plaaslike leweransiers vir duur tegniese apparaat nie en meestal is daar nie betyds daarvoor begroot nie.
Munisipale woordvoerder mnr. Peter Magwala sê dat vir enigiets tussen nul en R30 000 kwotasies telefonies deur die verkrygingskomitee (procurement committee) verkry word. Vir uitgawes tussen R30 000 en R200 000 word kwotasies by wyse van publikasie in die media aangevra. Vir uitgawes bo R200 000 word die normale tender prosedure gevolg.
"Die tender gaan uit en belangstellendes se aanbiedinge word deur ‘n komitee oorweeg waarna aanbevelings aan die munisipale bestuurder gemaak word. Die kwaliteit, prys, samestelling van die maatskappy en die lokaliteit van die verskaffer word in ag geneem," sê Magwala. Alles hang saam met die Wet op die Raamwerk vir Voorkeur Verkrygingsbeleid (Wet 5 van 2000).
"Die idee is pragtig, maar dit werk nie in die praktyk nie. Die ratte werk net nie," sê ‘n munisipale amptenaar.
Vrae word ook gevra na aanleiding van sogenaamde spookagente wat tenders kry en die belastingbetaler ekstra duisende uit die sak jag. ‘n Saak het onder die DA se aandag gekom waar so ‘n agent R7 000 in die sak gesteek het deur slegs as tussenpersoon op te tree om kantoormeubels vir die munisipaliteit te lewer. Mnr. Magwala het drie weke gelede gesê dat hy op die saak sal ingaan, maar geen terugvoering is ontvang nie.
DA raadslid Brian du Plooy sê dat dit onaanvaarbaar is dat ‘n spookagent wat geen vaste perseel het en geen kapitale uitleg maak, die kwotasie of tender kry en dan net by ‘n ander maatskappy die aankope gaan doen.
"Ons voel dat kwotasies en tenders in al die plaaslike koerante moet verskyn sodat die spookagent uitgeskakel kan word en die belastingbetaler kan bespaar."
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
