

ADVERTISEMENT:

News Date: 10 August 2007
Die flink optrede van beamptes van Royal Security het verlede Donderdag, 2 Augustus, gelei tot die arrestasie van ‘n vermeende koperdraaddief.
Die sekuriteitsbeamptes, wat aangestel is vir die beveiliging van Telkom se telefoondraadnetwerk, het vier mans in die bosse langs die Thohoyandoupad opgemerk terwyl hulle besig was om vermoedelik gesteelde Telkom-koperdraad te dra. Die mans is agterna gesit. Ongelukkig kon slegs een verdagte aangekeer word.
Die diefstal van Telkom-koperdraad het ure voor die arrestasie van die verdagte plaasgevind. Sowat 500m koperdraad is vanaf telefoonpale gesteel. Daar is toe begin om die area te patrolleer, waarna die verdagtes betrap is.
Lede van die Soutpansberg Dorpswag het ondersteuning gebied aan die wagte na die arrestasie van die verdagte. Sowat 45 minute nadat hulle geskakel is, het die polisie opgedaag en die verdagte in hegtenis geneem. Kommer is uitgespreek oor waarom die polisie so lank geneem het om te reageer.
In antwoord oor waarom die polisie so lank geneem het om op te daag, het plaaslike polisiewoordvoerder, kapt. Maano Sadike, gesê daar het verwarring ontstaan oor waar presies die verdagte gevang is. Die aanvanklike inligting was dat hy by die munisipale vliegveld aangekeer is. Later het dit egter aan die lig gekom dat dit by die modelklub se vliegveld was.
Kapt. Sadike het inwoners versoek om inligting ten opsigte van misdade en ander voorvalle so korrek moontlik aan die polisie deur te gee.

ADVERTISEMENT:
