ADVERTISEMENT:

 

Beloftes word gemaak in verband met die dorp se rioolsisteem, maar intussen is daar erwe waar daar as’t ware in die riooldamme geswem kan word. Hier staan ‘n werknemer by ‘n riooldam in een so ‘n erf.

Werklike stand van rioolprobeelm “skokkend”

 

News  Date: 10 August 2007

 

‘n Opspraakwekkende en deeglike stuk navorsing in verband met die rioolprobleme van die dorp is deur die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging (SBBV) bekendgemaak.

Mnr. Carel Breytenbach van die SBBV het op 2 Augustus tydens die Voorsittersvereniging se jaarvergadering foto’s en navorsing vertoon wat duidelik die probleme met die rioolwerke en watervoorsiening uitgespel het.

Aan die anderkant belowe die Makhado Munisipaliteit dat navorsing gedoen sal word deur spesialiste om vas te stel wat dit sal kos om die rioolverwerkingsaanleg op te gradeer.

Die ondersoek en foto’s het ‘n skokkende prentjie geskilder. Rou riool in Louis Trichardt is nou amper ‘n daaglikse gebeurtenis. In piektyd geskied die rioolstorting in die veld en industriële gebied teen ongeveer 100 liter per sekonde. Word die syfer omgeskakel na ‘n jaar se storting, beloop dit dan 788 400 000 liter. Riool moes die rioolplaas vanaf die maksimum sekutriteit gevangenis, industriële gebied en sekere residensiële areas bereik het. Dit vloei egter verby, onder deur die brug op die Louis Trichardt/Kutamapad en beland dan uiteindelik binne die akwasfeer van die dorp se waterpompe. Daar is genoem dat dit slegs een cholerageval kort om ‘n ramp teweeg te bring.

"Dit het ook aan die lig gekom dat nie een van die rioolpompstasies volledig toegerus en in werkende toestand is nie. Dit kom daarop neer dat nie een van die stasies oor ‘n tweede werkende aflospomp beskik nie. Vleistasie het tydens die besoek glad nie gewerk nie, maar daar is ‘n nuwe, ontoegeruste stasie binne meters van die oue," het mnr. Breytenbach gesê.

Die SBBV ondersoek het dadelik ‘n aantal probleme by die rioolverwerkingsaanleg geïdentifiseer. Van die ses pompe wat die skoonoorloop uit die besinkingstenks moet pomp na die biologiese filters, werk net een. Slegs een van die drie biologiese filters werk. Slegs een van die twee primêre verteringstenks se toerusting is in ‘n werkende toestand. Die uitvloei vanaf die biologiese filters na die verouderingsdamme is nie volledig "gefiltreer" nie. Daarom is dit oortrek van die Duckweed of damslyk wat gevaarlike hoë stikstofvlakke in die water aandui. Geen instandhouding van skakeltuig word gedoen nie. Pompe en pompmotors wat gespesialiseerde toerusting is, word ook nie herstel nie.

"Na wat verneem word, word geen E.coli of swaar-metaal toetse op ‘n weeklikse basis gedoen nie. Dit dek die tafel vir ‘n menslike en omgewings tragedie van ongekende afmetings," sê Breytenbach. Die SBBV het die probleme opgesom as ‘n gebrek aan onderhoud en bestuur, asook ‘n gebrek aan bestuur van beskikbare fondse.

Mnr. Masindi Mapholi, die Makhado Munisipaliteit se direkteur tegniese dienste, het Dinsdag beklemtoon dat water en sanitasie onder die Vhembe Distrik val, maar dat die Raad as diensverskaffer optree.

"Die R4.5 miljoen van Vhembe Distrik vir die lynsisteem is ver gevorder en dit is reeds op kontrak uit. Die R3.2 miljoen vanaf die Departement van Waterwese en Bosbou vir die pypleidingsisteem is ook aan die gang en ons gaan in elk geval voort daarmee. Ons wag vir goedkeuring van Vhembe vir die R15 miljoen om die rioolaanleg op te gradeer. Ons het navorsing aangevra om vas te stel hoeveel geld daarvoor benodig sal word, waarna ons die opgradering in fases sal implementeer," het mnr. Mapholi gesê.

Intusssen is daar erwe in die dorp waar daar as’t ware in die riooldamme geswem kan word. By die aanhoor van so ‘n probleem in Messinaweg, het Mapholi gesê dat hy dadelik ‘n span sou stuur en self sou kom, maar 24 uur later, teen druktyd, was daar nog geen spoor van die uitvoering daarvan nie.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines