

ADVERTISEMENT:

News Date: 17 August 2007
Vergaderings wat die Makhado Munisipaliteit belê het om oor ‘n naamsverandering vir Louis Trichardt te konsulteer, het op ‘n stemmery uitgeloop.
Verskeie inwoners het gekla dat hulle vrae nie tydens die vergaderings beantwoord is nie.
Die vergaderings vir Wyke 20 en 21, die twee wyke wat elk ‘n deel van Louis Trichardt beslaan, is belê vir Saterdag, 11 Augustus, gedurende die langnaweek.
Die Voorsittersvereniging (VV) het op 13 Augustus ten sterkste beswaar gemaak dat daar gekonsulteer is oor wat die naam moet wees alvorens daar gekonsulteer is of daar nodigheid is dat die naam verander. Die VV teken ook ten sterkste beswaar aan dat die vergaderings in die middel van ‘n langnaweek gereël word en dat daar nêrens konsultasie met die VV of enige van die 46 belanghebbende verenigings was nie.
"Die VV sal die proses weer in die hof uitdaag en die Raadslede persoonlik verantwoordelik hou vir hierdie ongelooflike vermorsing van geld. Hulle sal ook verantwoording doen vir hulle verdeling van die gemeenskap, in plaas daarvan dat hulle die gemeenskap versoen" het mnr. André Naudé van die VV gesê.
By die skousaalvergadering het die voorsitter, Raadslid David Mutavhatsindi, gesê: "Ons is vandag hier om die name voor te stel wat ons wil hê. Vrae moes by die vorige geleentheid gevra gewees het." Dit het gevolg na mnr. Fritz Ahrens namens die Voorsittersvereniging die eerste tien vrae van die VV gestel het. Rdl Mutavhatsindi se uitlating het onmiddellik ongelukkigheid by die gehoor ontlok, aangesien persone wat by die vorige vergadering betrokke was toe aangesê dat hulle ook nie daar mog vrae vra nie, maar moes wag vir Saterdag se vergadering.
Die eerste voorstel by die skousaal was dat die dorp se naam Louis Trichardt bly, ingedien deur Hennie Coetzee en gesekondeer deur die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging (SBBV). Aangesien ‘n vereniging gesekondeer het, het die voorsitter gevra dat hande opgesteek word.
"Daar is in geen stadium gesê dat ons op hierdie vergadering tot stemming sal oorgaan nie. Ek het my hand opgesteek om ‘n vraag te vra, maar is nie toegelaat nie," het ‘n verontwaardigde inwoner gesê. Daar is 55 hande getel vir die naam Louis Trichardt. Daarna is die naam Makhado voorgestel deur John Maswanganye en 88 hande is getel.
"Daar is nooit vasgestel wie mag stem nie. Daar was ook nie ‘n volledige naamlys met adresse nie. Daar is ook nie gevra wie buite stemming bly nie. Die proses is in elk geval weereens verkeerd," het Raadslid Marie Helm, wat by die skousaal teenwoordig was, gesê.
By die vergadering wat in die Raadsaal gehou is, is vier name voorgestel. Die naam Makhado is eerste voorgestel en het 58 stemme gekry, die naam Louis Trichardt 34, die naam Tshirululuni drie stemme en die naam Zoutpansburg twee stemme.
"As dit ‘n stemming was, dan moet dit soos by ‘n verkiesing werk en daar moet presies afgemerk word wie het gestem," was die kommentaar van me. Inga Gilfillan.
Die DA het in antwoord op Saterdag se vergadering gesê dat hulle dit onaanvaarbaar vind dat ´n proses wat deur die wet voorgeskryf word, nie korrek gevolg word nie. Die DA sê dat die proses drie stappe behoort te hê. Eers behoort die prosedure verduidelik te word, daarna moet vasgestel word by die verskillende rolspelers of daar ‘n behoefte is om ‘n naam te verander en dan word daar eers vir relevante name gevra.
Die SBBV het ter kommentaar gesê dat by die konsultasievergaderings "konsultasie" en vrae nie toegelaat is nie, maar dat daar gestoomroller is om tot stemming te kom.
Mnr. Peter Magwala, munisipale woordvoerder en voorsitter by die Raadsaal se vergadering, het Dinsdag gesê dat hy as voorsitter wel vrae beantwoord het. Magwala het die publiek versoek om alle vrae wat nie beantwoord is nie, skriftelik in te dien by die munisipaliteit vir die aandag van Raadslid TJ Mudau.
"Die vrae sal beantwoord word, so gou as wat moontlik is," het Magwala gesê. Hy het verder gesê dat die naamsveranderingsproses in volle swang is en dat die taakspan teen 14 Oktober "al die voorgestelde name sal kan konsolideer met die oog daarop om ‘n gevoel te kry van watter naam populêr is onder die meerderheid van die inwoners van die Makhado Munisipaliteit".
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
