

ADVERTISEMENT:

News Date: 17 August 2007
Boere in die Waterpoort-omgewing is vir ‘n geruime tyd al ietwat in die war oor mynreus Rio Tinto se planne vir die ontwikkeling van ‘n steenkoolmyn. Gerugte wil dit hê dat diamante en platinum dalk ook op die spyskaart kan wees, maar dit kan nie bewys word nie.
Dit is belangrik om te weet wie en wat presies Rio Tinto is en mense wat op hoogte is van verwikkelinge in die sakewêreld sal weet dat die mynreus onlangs Alcan, ‘n aluminium maatskappy in Kanada, gekoop het vir sowat $38 miljard. Verder is die mynreus bekend vir die ontginning van verskeie metale en grondstowwe wêreldwyd en spesialiseer veral in aluminium, koper, diamante, energie produkte, goud, industriële minerale en yster erts.
Rio Tinto is ‘n geruime tyd al besig in die Waterpoort-omgewing en hoewel daar met gemeenskappe gepraat is oor wat beoog word, sê die werklike grondeienaars dat hulle in die duister gehou word.
Volgens mnr. Henning Botha, voorsitter van die Waterpoort Boerevereniging, is daar met die mynmaatskappy in verbinding getree oor die stand van sake met ‘n versoek vir die hou van ‘n inligtingsvergadering. Dié vergadering sal op Saterdag, 18 Augustus, plaasvind by die boeresaal op Waterpoort.
Volgens Botha is ‘n vraelys opgestel en van die tipe vrae wat tydens die vergadering aan Rio Tinto gestel sal word, sluit in wie en wat presies die mynreus is, beide op nasionale en internasionale vlak, en wat hul planne vir die Waterpoort-omgewing is. Die boere wil ook weet watter tipe ontginning gaan plaasvind en wanneer dit gaan begin. Grondeienaars is ook nuuskierig oor die graad van steenkool wat hulle daar wil ontgin en waarvoor dit aangewend gaan word. Botha sê daar is sprake van die moontlike oprigting van ‘n kragsentrale in die omgewing, wat dalk die behoefte aan steenkool kan verduidelik.
Die belangrikste vraag waarop boere egter ‘n antwoord verwag, het betrekking op die omgewingsimpakstudie. Hulle wil graag weet of só ‘n studie al gedoen is en of daar al ‘n omgewingsbestuursplan is. Volgens Botha is die beskikbaarheid van water in die Waterpoort-omgewing ‘n belangrike kwessie. Die omgewing is in ‘n waterarm gebied en enige mynbedrywighede kan die huidige watervlakke beïnvloed. Landbouers hou deurlopend die ondergrondse watervlakke dop en gebruik dit reeds met groot omsigtigheid.
Volgens Botha is daar vrese dat die gate wat vir die steenkool geboor sal word, sal toelaat dat suurstof tussen die steenkoollae sal inbeweeg, wat gevolglik die ondergrondse balans sal versteur. Hy sê dat die steenkoollae anaërobies is, wat beteken dat daar hoofsaaklik koolsuurgas en min suurstof voorkom. Mikro organismes kom in dié tipe toestande voor en hou die ondergrondse water in balans. Indien suurstof egter die organismes bereik, sal hulle sterf en as gevolg daarvan kan die water se na-sout inhoud die hoogte inskiet. Dit sal beteken dat die ondergrondse water uiteindelik ongeskik sal wees vir mens, dier en plant.
Die Zoutpansberger het met die Rio Tinto-mynmaatskappy in verbinding probeer tree vir kommentaar, maar is ook versoek om eerskomende Saterdag se inligtingsvergadering by te woon.

ADVERTISEMENT:
