ADVERTISEMENT:

 

Die voorsitter van die plaaslike tak van die ATKV, mnr. Ben Harris, oorhandig ‘n tjek van R1 000 aan mev. Sonja Minnaar, maatskaplike werker van die CMR op Louis Trichardt. Van links na regs in die foto is mnre. Marius Gilfillan van Lalapanzi, waar die ATKV ‘n wynproe-aand en wynveiling aangebied het, mnr. Harris, mev. Minnaar en mnr. Danie Voges, tesourier van die ATKV. Mnr. Harris het by die geleentheid kommer uitgespreek oor die toenemende voedsel- en behuisingsnood onder blanke inwoners van die dorp. Die plaaslike ATKV het ook ‘n bydrae van R2 710 gemaak tot die Rapport Onderwys-fonds.

Nood onder dorp se arm blankes neem toe

 

News  Date: 17 August 2007

 

Verblyf- en voedselnood neem onrusbarend toe onder blankes in Louis Trichardt.

Meer as 70 blanke gesinne moet reeds op ‘n daaglikse grondslag van voedsel voorsien word. Blyplek vir behoeftiges onderdak en versorging vir diegene wat ongeskiktheidstoelaes ontvang as gevolg van een of ander fisiese of verstandelike gestremdheid, is heeltemal onbekombaar.

Skokfeite oor die opdraande stryd wat welsyns- en barmhartigheidsdienste op die dorp voer om dié toenemende nood onder blankes te hanteer, het vandeesweek aan die lig gekom in ‘n onderhoud met die welsynswerker by die Christelike Maatskaplike Raad (CMR) op Louis Trichardt, mev. Sonja Minnaar. ‘n Benouende situasie is geskets ná afloop van die oorhandiging van ‘n kontantskenking van die plaaslike ATKV-tak aan die CMR.

Mev. Minnaar sê die afgelope tyd gebeur dit dikwels dat besorgde inwoners van die dorp by die CMR kantoor opdaag met behoeftige blanke gestremdes wat op straat of elders in verwaarlosing aangetref is.

"Hierdie welwillende inwoners verwag met alle stelligheid dat ons op een of ander manier ‘n oplossing vir dié nood moet hê. Die tragiese waarheid is dat ons oor geen sodanige herberg in ons gemeenskap beskik, waar ons sulke behoeftige gestremdes kan laat tuisgaan nie."

Die CMR verskaf algemene welsyns-, kinder- en gesinsorgdienste en behartig ook met behulp van skenkings uit die gemeenskap die uitdeel van nood voedselvoorrade en klerasie. Gereelde insamelings van nie-bederfbare voedselvoorrade vir die CMR se koskas word by verskeie gemeentes op die dorp behartig. Vrywilligers is betrokke by die aflewering van nood voedselvoorrade by behoeftige gesinne.

"Die gesinne bestaan dikwels uit ouers wat altwee werk, maar weens die geweldige hoë lewenskoste en hul betreklik lae inkomste, kan hulle eenvoudig nie die formele huishuur bybring en nog genoeg oorhou vir die kinders se skoolgeld, klere en voldoende voedselvoorrade nie."

Mev. Minnaar sê blanke gestremdes is in ‘n besonder onbenydenswaardige posisie teenoor gestremdes van ander rasse.

"Die ongeskiktheidstoelaes wat hulle ontvang, is eenvoudig nie toereikend om vir hulle geskikte huisvesting te bekom binne hul bekende gemeenskap nie. Hierteenoor is bekostigbare onderdak huisvesting geredelik beskikbaar in gemeenskappe in buurtes waar gesubsidieerde en minder formele behuising verskaf word."

Die voorsitter van die plaaslike tak van die ATKV, mnr. Ben Harris, wat namens die ATKV ‘n kontant skenking aan die CMR oorhandig het, het met kommer kennis geneem van dié "nuwe arm-blanke probleem". Hy het gesê dit is belangrik dat die gemeenskap onverwyld aandag sal gee aan hierdie nood en koppe bymekaar moet sit om dringend ‘n gepaste oplossing, moontlik in die vorm van ‘n woonhuis te vind wat spesiaal toegerus en bedryf kan word vir die versorging van sulke behoeftiges.

Mense wat in so ‘n projek sou belangstel, oplossings aan die hand wil doen of op enige wyse daarmee behulpsaam kan wees of ‘n bydrae daartoe kan maak, kan mnr. Harris bel by 082 895 2654.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines