ADVERTISEMENT:

 

Fietsryers boos oor swak polisie-ondersoek

 

News  Date: 17 August 2007

 

Die pyn en ongerief wat twee fietsryers moes verduur nadat hulle deur ‘n motoris raakgery het, het ‘n nuwe wending geneem. Die twee fietsryers, Antoinette Pieters en Helena Mellett van Louis Trichardt, het ‘n amptelike klag teen die ondersoekbeampte in die saak ingedien oor die swak wyse waarop die polisie-ondersoek hanteer is.

Pieters en Mellett is omstreeks 07:00 op 25 Junie deur ‘n motoris op die N1, ongeveer agt kilometer suid van Louis Trichardt, raakgery. Die fietsryers, sowel as die motoris in ‘n Toyota Cressida, het in dieselfde rigting (suid) beweeg. Pieters het voor gery en beide ryers was links van die geel streep. Die motoris het in Pieters vasgery, waarna Mellett in die voorste fiets ingery het en drie armbreuke opgedoen het. Mellett is in Polokwane geopereer, terwyl Pieters in die Zoutpansberg Privaat Hospitaal versorg is.

Intussen het Pieters se mediesefonds vereis dat sy ‘n kopie van die polisieverslag oor die ongeluk indien. Dit is waar die probleme klaarblyklik begin het. Die verslag kan net uit niemand gekry word nie. Die verslag is ook die oorsaak dat die saak so amper heeltemal uit die hof gegooi is. Die ondersoekbeampte het egter glo aan die slagoffers van die ongeluk gesê dat die beskuldigde skuldig gepleit het.

Pieters en Mellett beweer dat die ondersoekbeampte, ‘n vroue-inspekteur, aan Pieters gesê het dat sy net die polisieverslag kan kry as haar prokureur ‘n brief skryf. Dit is gedoen sonder enige resultate.

"Die inspekteur het myself en me. Mellett op 18 Julie besoek. Sy het gerapporteer dat die beskuldigde, mnr. Mabaduga, in die hof verskyn het en skuldig gepleit het. Sy het ook gesê dat hy weer in die hof moet verskyn op 2 Augustus," sê Pieters.

Op 2 Augustus het Pieters na hof C gegaan waar sy ‘n staatsaanklaer aangetref het wat met ‘n lêer in die hand gestaan het.

"Sy is gevra of sy ‘n saak Mabaduga en twee fietsryers het. Die aanklaer het geantwoord dat sy net op die punt was om die saak uit te gooi, omdat sy nie tevrede was met die polisie-ondersoek nie. Sy het my nadergeroep en aan my die swak tekening van die ongelukstoneel gewys. Sy het gesê dat dit nie waar was dat die beskuldigde skuldig gepleit het nie," sê Pieters.

Verder sê Pieters dat die staatsaanklaer gesê het dat sy ‘n nota aan die ondersoekbeampte geskryf het om die bestuurder en twee fietsryers te kontak en hulle na die toneel te neem en ‘n meer akkurate tekening op te stel. Verskeie pogings is deur Pieters aangewend om die ondersoekbeampte op te spoor en daar is met verskillende senior offisiere gepraat, maar die remme het maar net bly vassteek.

Kaptein Maano Sadiki, woordvoerder van die plaaslike SAPD, het intussen bevestig dat die roekelose en nalatige bestuur saak, saak 330/06/2007, op 2 Augustus in die plaaslike magistraatshof verskyn het, maar uitgestel is na 6 September. Dieselfde inligting is gegee deur die beheeraanklaer wat ook bevestig het dat die beskuldigde nie skuldig gepleit het nie en dat die ongeluk se sketsplan onvoldoende was. Die saak is deur aanklaer me. Mathebula hanteer.

Die SAPS Makhado het teen druktyd nog nie voldoen aan die versoek van die Zoutpansberger om die polisieverslag van die ongeluk beskikbaar te stel nie.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines