

ADVERTISEMENT:

News Date: 24 August 2007
Boere in die Waterpoort-omgewing het Saterdag, 18 Augustus, meer duidelikheid gekry oor die mynreus Rio Tinto se planne vir dié gebied.
‘n Inligtingsvergadering is belê nadat boere begin vrae vra het oor die mynmaatskappy se planne vir die vestiging van ‘n steenkoolmyn. Dié vrae het ingesluit wanneer die mynreus nou eintlik gaan begin met hul aktiwiteite, wat die nuutste is rondom ‘n moontlike Eskom-kragstasie in die gebied en wat die bevindinge van die omgewingsimpakstudie was?
Hoewel sommige boere se vrae steeds onbeantwoord gebly het, is dit duidelik gestel dat die mynreus slegs met ontginning sal begin indien Eskom wel besluit om ‘n steenkoolkragstasie daar op te rig. Volgens inligting sal die Waterpoort-steenkoolmyn só ‘n kragstasie vir sowat 40 jaar van steenkool kan voorsien. Die tipe steenkool wat moontlik ontgin kan word, is soortgelyk aan dit wat by Tshikondeni gemyn word.
Rio Tinto is by die vergadering verteenwoordig deur mnre. Kuda Muchenje (tegniese bestuurder van die Chapudi Steenkoolprojek), Gary Wright (plattelandse bestuurder van Rio Tinto in Suid Afrika) en Makhonza Mac Mashinini van Kwezi Mining wat as Rio Tinto se swart bemagtigingsvennoot optree.
Muchenje het aan boere gesê dat Rio Tinto sowat 3% van die mynbedryf in Suid-Afrika besit. Wat hul aktiwiteite agter die Soutpansberg betref, het Muchenje gesê dat Kwezi Mining en Eksplorasie Suid-Afrika besig is met eksplorasietoetse, maar dat dit in hierdie stadium nie noodwendig beteken dat hulle gaan myn nie. Die rede hiervoor, sê hy, is weens die feit dat Rio Tinto geen beheer oor Eskom se finale besluit het nie en dat hul betrokkenheid beperk word tot hul eie mynaktiwiteite. Eskom beskik ook klaarblyklik oor ander opsies wat betref die ligging van die steenkoolkragstasie.
Ten opsigte van die impak wat só ‘n myn op die omgewing en sy mense sal hê, het Muchenje genoem dat hul omgewingsimpakstudie reeds by die betrokke regeringsdepartment ingedien is vir beslissing. Volgens hom is die mynreus se hoofdoel om volhoubare ontwikkeling te skep tot voordeel van almal in die streek, asook om te verseker dat die omgewing nie skade lei nie.
Wright het op sy beurt boere meegedeel dat, alhoewel die mynmaatskappy nie nou dadelik kan begin myn nie, dit nie Rio Tinto verhoed om voort te gaan met eksplorasie in die gebied nie. Hy het boere egter die versekering gegee dat die maatskappy baie ervaring het en dat, sou daar begin word met ontginning, nie alle plase ontwrig sal word nie. Wright sê dat steenkool in stroke ontgin sal word, waarna dele wat reeds gemyn is, gerehabiliteer sal word en weer boere in staat sal stel om voort te boer.

ADVERTISEMENT:
