ADVERTISEMENT:

 

Administrasiekoste vat ons pensioen, kla werkers

 

News  Date: 24 August 2007

 

‘n Pensioenfonds wat veronderstel was om te sorg vir ‘n kommervrye oudag, het ontaard in ‘n woordestryd tussen ‘n groepie plaaslike werkers en die administrateurs van die fonds. Die ongelukkigheid gaan oor die feit dat administratiewe koste skynbaar ‘n aansienlike deel van die werkers se pensioengeld opgeslurp het.

In Maart 2005 het 19 werkers van Vygeboomsdrift Varke bydraes begin maak tot ‘n sambreel pensioenfonds wat deur Sanlam geadministreer word. Die fonds is deur ‘n plaaslike makelaar aan die besigheid bemark en hy het as finansiële adviseur opgetree.

"Ons is nooit behoorlik ingelig oor die reëls van die fonds nie en het ook nie verslae gekry oor hoe die fonds presteer nie," sê mnr. Ben Walters, een van die werknemers. Volgens hom het hy en nog van die werknemers enkele maande na die fonds in werking getree het, reeds begin vrae vra oor die groei van die fonds en oor hoe hul geld belê word. "Tot vandag toe het ek nog geen dokumentasie oor die fonds ontvang nie," sê mnr. André Venter, nog een van die lede van die fonds.

Agt van die werkers het in Oktober 2005 besluit hulle sien nie verder kans om bydraes tot die fonds te maak nie en hul lidmaatskap beëindig. Nege maande later, in Julie 2006, het dié lede hul tjeks deur die pos ontvang. Hul bydraes, tesame met die groeikomponent, is aan hulle uitbetaal.

Die res van die lede het teen einde Maart 2006 besluit om ook hul lidmaatskap te beëindig en het Sanlam se finansiële adviseur gevra om navraag te doen oor hoe die fonds gestaak kan word en die beskikbare kapitaal na ‘n ander fonds oorgedra kan word. Hulle is ingelig dat daar ‘n drie maande kennisperiode is en dat die koste om die fonds te beëindig net meer as R20 000 sal beloop. Die bedrag word bepaal ingevolge die reëls van die fonds. Sanlam het ook aan die werkers verduidelik dat daar slegs twee opsies is wat deur toepaslike wetgewing bepaal word. Die bestaande fonds kan gelikwideer word en die oorblywende geld aan die lede uitbetaal word, of die geld kan ingevolge ‘n Seksie 14 oordragsproses na ‘n ander fonds oorgedra word. In albei gevalle is die administrasiefooi egter betaalbaar.

In Mei 2006 is Sanlam in kennis gestel dat die lede uiters ongelukkig is oor die wyse waarop die fonds hanteer is en dat hulle hul lidmaatskap beëindig. Hulle was voorts nie bereid om die administratiewe fooi te betaal nie. Die eienaar van Vygeboomsdrift Varke, mnr. Herman Scheepers, het opgehou om verdere bydraes namens die lede tot die fonds te maak en die bydraes is verskuif na ‘n nuwe pensioenfonds.

Volgens mnr. Ben Walters is die fonds onder valse voorwendsels aan hulle bemark. Hy sê dat die finansiële adviseurs nooit die werkers ingelig het oor aspekte soos ‘n drie-maande-kennisperiode nie, asook die administratiewe "boetes" indien die fonds beëindig sou word nie. Hul besluit om lidmaatskap te beëindig, was gebaseer op die swak of geen terugvoering wat hulle gekry het vanaf die finansiële adviseurs. Mnr. Walters blameer ook Sanlam vir die feit dat hulle agt van die lede se uitbetalings gedoen het sonder om die omstandighede te bevraagteken. Volgens die reëls van die fonds kan die uitbetalings slegs gedoen word by sterfte of indien hulle die werkgewer se diens verlaat. Die feit dat die agt werkers se gelde uitbetaal is, beteken dat die administratiewe las om die fonds te beëindig, nou op die skouers rus van die oorblywende 11 lede.

In ‘n skrywe wat in Junie 2006 deur Sanlam aan die fondslede gestuur is, word verskoning aangebied vir die swak diens wat klaarblyklik gelewer is deur die finansiële adviseurs. In die brief skryf mev. Avril Abrahams, administratiewe bestuurder by Sanlam, dat die nodige inligting beskikbaar gemaak is, maar klaarblyklik nie by die fondslede uitgekom het nie. Sy erken dat kommunikasie ‘n probleem was en dat Sanlam reeds nuwe prosesse in plek gestel het om seker te maak dat die vloei van inligting nie in die toekoms beperk word nie. Die feit dat die oorblywende lede reeds te kenne gegee het dat hulle uit die fonds bedank, laat Sanlam met net twee keuses, nl. óf om die fonds te likwideer, óf om die beskikbare kapitaal na ‘n ander fonds oor te dra. Die tydsverloop van enige van die aksies is tussen 12 en 18 maande.

Synde daar nie tot ‘n vergelyk gekom kon word oor die administratiewe koste hieraan verbonde nie, het die werkers in September 2006 die saak na die pensioenfondsberegter verwys vir ondersoek. Dié stap het egter nie veel positiewe resultate tot gevolg gehad vir die werkers nie. In Maart vanjaar is hulle deur die assistent-beregter, mnr. Makhado Ramabulana, in kennis gestel dat die fonds reeds in die proses van likwidasie is. Die Registrateur van Pensioenfondse het bevestig dat ‘n likwideerder reeds aangestel is wat sal seker maak dat die fondse reg toegedeel word.

Op die aantyging dat Sanlam gefouteer het deur die aanvanklike agt lede se geld uit te betaal, het hulle geantwoord dat die eisvorm wat deur die werkgewer onderteken is, in goeie trou aanvaar is as ‘n bevestiging dat die werknemers die werkgewer se diens verlaat het. Sanlam voer ook aan dat hulle uit hul pad gegaan het om moontlike misverstande rakende die fonds uit te sorteer. Hul pogings het briewe en telefoonoproepe na die werkgewer, mnr. Scheepers, ingesluit. Hulle was ook bereid om een van die trustee-verteenwoordigers van die fonds na Louis Trichardt te stuur om die situasie te bespreek. Hulle is egter meegedeel dat dit geen sin sal hê nie, aangesien die lede reeds besluit het om in ‘n ander fonds te belê.

Die groep werkers van Vygeboomsdrift Varke oorweeg nou hul verdere opsies en die moontlikheid om die saak na ‘n toepaslike hof te neem.

 

Written by

Anton van Zyl

Anton van Zyl has been with the Zoutpansberger and Limpopo Mirror since 1990. He graduated from the Rand Afrikaans University (now University of Johannesburg) and obtained a BA Communications degree. He is a founder member of the Association of Independent Publishers.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines