

ADVERTISEMENT:

News Date: 24 August 2007
Mnr. Dries Joubert, voorsitter van TLU SA Noord, het sy kommer uitgespreek oor ‘n voorval op Dinsdag, 14 Augustus, toe ‘n Eskom-kontrakteur gearresteer is omdat hy onwettige Zimbabwiese immigrante teen vergoeding vervoer het.
Volgens mnr. Gideon Meiring, nasionale voorsitter van die TLU SA se Veiligheidskomitee, was die TLU SA Noord se plaaswag Dinsdag weer besig met misdaadvoorkoming. Net noord van die Baobab-tolhek op die N1 na Musina is ‘n Eskom-gemerkte voertuig opgemerk. Verskeie persone het van die voertuig afgeklim en onder in die stormwater slote onder die N1 gekruip. Vyf persone is as onwettige immigrante gearresteer. Die bestuurder is ook aangehou. Die polisie is ontbied en terwyl daar vir die polisie gewag is, is nog agt onwettige Zimbabwiese immigrante op die aangrensende plaas gearresteer vir betreding. Die bestuurder van die Eskom-gemerkte voertuig is gearresteer en het, volgens Meiring, later ‘n R1 500-afkoopboete is betaal.
TLU SA president mnr. Paul van der Walt was tydens die arrestasie van die Eskom-kontrakteur op besoek aan die gebied. Die doel van sy besoek was nie net om eerstehandse kennis op grondvlak op te doen, maar ook om lede te ondersteun en hulle aan te moedig om nie moed te verloor nie. Van der Walt het gevra dat daar vir lede wat onder die uiters moeilik omstandighede boer en leef, gebid moet word. Hy het gesê dat die probleem nimmereindigend blyk te wees en dat oplossings slegs op politieke vlak gevind sal kan word.
Wat die huidige situasie op die land se noordgrens betref, het Joubert gesê dat dit, soos by die Lesotho-grens, ernstige afmetings aanneem. Hy sê dit kos boere baie geld om die veiligheid van hulself, hul families en hul eiendom te verseker. Die prys wat hulle betaal weens ‘n verlies aan produktiwiteit omdat hulle self, sonder vergoeding, baie tyd moet spandeer aan misdaadvoorkoming, is ook hoog.

ADVERTISEMENT:
