

ADVERTISEMENT:

News Date: 24 August 2007
Talle inwoners kla die afgelope tyd oor die ABSA OTM by Mount Fuji Motors, maar verdere ondersoek het aan die lig gebring dat die OTM ook ‘n kopseer is vir die eienaars van die vulstasie.
Een inwoner het aan die Zoutpansberger geskryf dat sy daar R700 gaan trek het. Geen geld is uitgespoeg nie, maar tot haar skok het die OTM-kwitansie gewys dat die geld wel van haar rekening af is. Om ‘n lang storie kort te maak het sy uiteindelik weer haar geld teruggekry, maar dit was nie sonder sukkel nie.
Mnr. John le Cornu van Mount Fuji Motors het by navraag gesê dat hy bewus was van die kliënt se probleem, asook ander probleme. Hy het egter gesê dat die OTM ook vir hulle ‘n kopseer is en verduidelik dat hulle die masjien huur. Die probleem is dat die masjien eintlik ‘n binnenshuise masjien is wat probleme gee as dit buite in die ope is, veral in klam weer. Dit veroorsaak dat verkeerde uitbetalings kan plaasvind.
Mnr. Le Cornu sê hy het al verskeie kere die kontrakteur van wie hy die masjien huur, versoek om die masjien te kom verwyder, na aanleiding van die klagtes. Ten spyte van hul pogings om die probleem spoedig te probeer oplos, het kontrakverpligtinge egter aanvanklik sake moeilik gemaak.
Mnr. Le Cornu se vrou, Leanda, wat verantwoordelik is vir die OTM, het intussen ‘n skrywe uitgereik waarin sy mense wat probleme ondervind aanraai om direk die kwessie met hul betrokke banke op te neem en gereeld op te volg. In die skrywe verduidelik sy verder dat elke transaksie ‘n nommer het wat op die strokie aangedui word. Dié nommer stel banke instaat om te weet waar die betrokke masjien geleë is. Wat dit op neerkom is die feit dat alhoewel ‘n OTM by ‘n spesifieke besigheid geïnstalleer kan wees, bly dit op die ou einde ‘n banktransaksie waaroor die besigheid geen beheer het nie. Dit is dieselfde wanneer ‘n bankkaart gesluk word. Ook hieraan kan die besigheid niks doen nie. Dit is waarom, skryf mev. Le Cornu, hierdie probleme met die betrokke banke uitgesorteer moet word. Sy raai persone ook aan om so gou moontlik klagte by die banke te rapporteer, aangesien dit kan gebeur dat die probleem lank kan vat om opgelos te word. In die skrywe noem sy verder dat die betrokke OTM verwyder gaan word en vervang gaan word met ‘n buitemasjien.

ADVERTISEMENT:
