

ADVERTISEMENT:

News Date: 31 August 2007
Met die uurglas wat vinnig besig is om leeg te loop vir die Raad se vier direkteure ten opsigte van die beëindiging van hul dienskontrakte, kon die Makhado Munisipaliteit hierdie week nog geen duidelik gee oor wie in hul plekke aangestel gaan word nie.
Verskeie pogings om kommentaar oor die aangeleentheid van die Raad se politieke hoof, burgemeester Glory Mashaba, te verkry het weinig antwoorde opgelewer.
Die vraag op almal se lippe, insluitend die Raad se amptenary, is wie die direkteure se werk gaan doen as hulle weg is. Kommer is ook uitgespreek oor die leemte wat hul diensbeëindiging teweeg gaan bring ten opsigte van dienslewering, aangesien die munisipaliteit skynbaar weinig of nog niks gedoen het om die dreigende bestuurskrisis aan te spreek nie.
Die Raad se vier direkteure, mnre. Masindi Mapholi (Tegniese Dienste), Peter Magwala (Gemeenskapsdienste), Vic Viljoen (Korporatiewe Dienste) en Dan Masengana (Plaaslike Ekonomiese Ontwikkeling), het reeds in Maart vanjaar ses maande kennis gekry dat hul kontrakte met die Raad verstryk. Magwala en Mapholi se kontrakte verstryk Vrydag, 31 Augustus, en Viljoen en Masengana se kontrakte op 30 November vanjaar. Intussen doen gerugte die rondte dat, alhoewel nuwe aansoeke vir die poste reeds ontvang is en van die direkteure heraansoek gedoen het vir hul poste, die Raad nog nie eers ‘n kortlys van kandidate opgestel of begin het met onderhoude nie. In effek beteken dit dat met Magwala en Mapholi se diensbeëindiging Vrydag, niemand in hul plekke beskikbaar is nie.
"Die manier waarop die Raad die kwessie hanteer dui op swak leierskap. Dit is hoekom dit so sleg gaan met die Raad," was die opmerking van een amptenaar, wat vir die doel van hierdie artikel anoniem wil bly. Sy opmerking sluit ook aan by die Demokratiese Alliansie se kommentaar op die aangeleentheid verlede week.
"Die Raad se senior bestuur gaan verder hierdeur ontwrig word. Dit dui op swak leierskap ten opsigte van bestuur, besluitneming en prosesdures wat nie gevolg word nie," was die kommentaar van DA raadslid Brian du Plooy. Wat betref die prosedures wat nie gevolg word nie, het hy verwys na die beëindiging van die munisipale bestuurder, me. Faith Muthambi, se vyf-jaar kontrak met die Raad. Volgens prosedure moes sy op 2 Augustus kennis gekry het dat haar kontrak verstryk, maar dit het nie gebeur nie. Volgens Du Plooy moet Muthambi nou òf heraangestel word, òf ‘n skeidingpakket betaal word wat gelykstaande is aan haar vergoedingspakket vir die vyf jaar periode, ‘n bedrag wat R3,3 miljoen beloop.
‘n Vraelys is deur die Zoutpansberger opgestel en Dinsdagoggend aan rdl. Mashaba se kantoor gestuur.
Van die vrae wat aan haar gestel is, het ingesluit waarom me. Muthambi nie volgens prosedure ses maande kennis gekry het van die beëindiging van haar dienskontrak nie; wat die regs- en finansiële implikasies is van die Raad se versuim om haar vroegtydig in kennis te stel; hoe ver die Raad is ten opsigte van die aanstelling van nuwe direkteure; watter invloed die beëindiging van die direkteure se kontrakte, voordat nuwe aanstellings gemaak is, sal hê op dienslewering; en of die Raad gebeurlikheidsplanne in plek het om die moontlik leemte in senior bestuur aan te spreek totdat nuwe aanstellings gemaak word.
Die vraelys is opgevolg met ‘n persoonlike oproep aan Mashaba, waartydens sy gesê het sy is nie op kantoor nie. Sy het toe versoek dat sy na 16:00 weer geskakel moet word. Ná vier is sy weer geskakel. Sy het van die vrae beantwoord, maar later die onderhoud onderbreek en versoek dat sy weer om 17:45 teruggeskakel moet word.
Tydens die kort onderhoud het Mashaba bevestig dat die Raad nog nie begin het met onderhoude vir die vul van die direkteure se poste nie. Die rede hiervoor, het Mashaba gesê, is dat die Raad eers probleme wil uitsorteer rondom die direkteure se gedelegeerde magte. Geen duidelike antwoord kon verskaf word rondom me. Muthambi se kontrak nie.
Om 17:45 is Mashaba weer geskakel. Sy het nie haar selfoon geantwoord nie. ‘n Boodskap is op haar antwoorddiens gelaat. Vyftien minute later is sy weer geskakel. Die keer was haar selfoon afgeskakel. ‘n SMS-boodskap is toe aan haar gestuur, waarin sy versoek is om die Zoutpansberger te skakel rakende antwoorde op die vraelys. Teen druktyd Woensdagmiddag is daar steeds vir haar oproep gewag.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
