

ADVERTISEMENT:

News Date: 31 August 2007
‘n Beseerde in ‘n verkeersongeluk het desperaat probeer om ‘n bus teë te hou sodat die bestuurder nie wegjaag na die ongeluk nie, maar is ru uit die pad gestamp deur die bus, wat daarna weggery het. ‘n Onbekende vrou was ook betrokke in die botsing.
Mnr. Adriaan van Heerden (46) van Louis Trichardt het op Donderdag, 23 Augustus, oudergewoonte op sy motorfiets werk toe gery by Transnet in Krugerstraat. Kort voor die treinstasie het ‘n bus voor hom in die regterbaan gestop en begin passasiers aflaai. Van Heerden sê dat hy stadig regs om die bus beweeg het, toe ‘n vrouepassasier skielik voor hom ingeloop het en hy haar getref het. Dit het omstreeks 06:20 gebeur. Die vrou het links uit die bus afgeklim en voor die bus omgeloop, sonder om te kyk.
Die botsing het die motorfiets van balans geruk en Van Heerden het hard met die teer kennisgemaak. Hy het sowat 15m geskuur. In die proses het hy sy sleutelbeen gebreek.
Van Heerden het opgestaan en probeer vasstel wat van die vrou geword het, maar dié het weggehardloop. Die polisie en verkeersafdeling is intussen ontbied. Van Heerden sê dat hy die busbestuurder gemaan het om nie te ry nie aangesien hy dan van ‘n ongelukstoneel sal wegry. Hy het fisies voor die bus gaan staan.
Dit is toe dat die bus hom uit die pad gestoot-stoot het en weggery het. ‘n Kollega van die stasie het daarin geslaag om die bus se registrasienommer te neem. Hulle het die slag gehoor en mnr. Nic Lubbe en vier sekuriteitswagte het hulle na die toneel gehaas.
Mev. Retha van Heerden het ook intussen op die toneel opgedaag. Toe die polisie kom en haar man aansê om ‘n saak by die polisiestasie aanhangig te kom maak, het sy hulle meegedeel dat haar man eers hospitaal toe geneem sou word. Hy is by die Zoutpansberg Privaathospitaal behandel. Die motorfiets het skrape opgedoen.
"Die bus is weg, die vrou is weg en hier sit my man met sy af sleutelbeen. Hy slaap nie snags nie as gevolg van die pyn," het Retha Dinsdag gesê. Van Heerden was reeds besig om tuis aan te sterk. "My medies dek net die gedeelte in die hospitaal, vir die res is ek verantwoordelik," het Van Heerden gesê.
Ten tye van die neem van die foto’s Dinsdag het geen polisieman nog ‘n verklaring by hom kom afneem nie. Die polisie het wel later die dag geskakel en ‘n afspraak gemaak, nadat navraag oor die saak deur die Zoutpanberger aan die polisie woordvoerder, Inspekteur Nelwamato Vele, gerig is. Insp. Vele het gesê dat die Staat ‘n saak van roekelose of nalatige bestuur geopen het met saaknr. 302/08/2007. Die ondersoekbeampte is Insp. Ramadzhadzi. Vele het gesê dat die polisie nie uitspraak gee oor wie reg en wie verkeerd was nie, maar dat verklarings by Van Heerden en die busbestuurder geneem sal word en ‘n sketsplan van die ongeluk opgestel sal word, waarna die hof oor die saak sal beslis.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
