

ADVERTISEMENT:

News Date: 31 August 2007
‘n Span van 20 lede van die twee NG gemeentes op Louis Trichardt, met ‘n konvooi van vyf voertuie met swaar sleepwaens, het deelgeneem aan vanjaar se gesamentlike winter sendinguitreik na drie buurlande, waar hulle vir 11 dae intensief betrokke was by ‘n wye verskeidenheid hulpprojekte in ‘n komplekse drie-in-een uitreikpoging.
Luidens die verslag van groepleier ds. Willem Boshoff, is daar met die voertuie gesamentlik 18 000 kilometers afgelê op ‘n roete wat hulle deur vier buurlande, oor talle grensposte en deur baie padblokkades gevoer het.
Die fokus by die drie verskillende eindbestemmings in Zimbabwe, Zambië en Malawi was onder meer hulpverlening aan bejaardes by ses verskillende gemeentes in Zimbabwe en beduidende infrastruktuurverbetering en steun aan die FCE hoofkwartier in Zambië en die Sola Scriptura Bible Training College in Muzuzu, Malawi.
In sentraal en noordelike Zimbabwe is besoek gebring aan bejaardes op Kadoma, Chengutu, Chinhoyi, Karoi, Harare en Marondera. Ds. Boshoff sê Louis Trichardt se NG-gemeentes is reeds agt jaar lank betrokke by hulpverlening aan Zimbabwiese gemeentes.
"Ons teiken bejaardes veral om twee redes. Die gemeentes as sulks en die dominees is geholpe, omdat die NG kerk se Noordelike Sinode hulle help. Die bejaardes is egter almal uiters kwesbaar. Meeste van die bejaardes is as’t ware ekonomiese gevangenes met geen ander realistiese heenkome nie. Ons het ouetehuise en private wonings besoek. Die hoofdoel was bemoediging, maar daar is ook honderde pakkies afgelewer met produkte wat uiters skaars en duur is in Zimbabwe."
Die twee predikante (ds. Boshoff en ds. André Botha) wat die uitreik meegemaak het, het op verskeie plekke in die buurstate eredienste behartig.
"Die lidmate het dit waardeer, want Marondera, byvoorbeeld, kry net 1 Sondag per kwartaal ‘n predikant", sê ds. Boshoff.
Louis Trichardt se NG-gemeentes is al reeds ses jaar lank betrokke by die Sola Scriptura Bible Training College in Malawi, waar 56 studente tans ‘n deeglike drie-jaar Bybel opleiding ontvang.
"Dit spreek ‘n reuse leemte aan vir studente met ‘n roeping tot evangeliebediening, maar wat nie universiteitsopleiding kan bekostig nie. ‘n Onlangse ondersoek toon dat 95% kerkleiers in Malawi geen formele opleiding het nie. Die bybelkollege se konsep is reg om op ‘n koste-effektiewe manier ‘n groot en volhoubare bydrae in die Koninkryk te maak," sê ds. Boshoff. Twee vorige uitreikspanne het op groot skaal gehelp met uitbreiding van die geboue en geriewe op die kampus. Vanjaar se span het daarop voortgebou en onder meer ‘n drie-fase 25kva diesel kragopwekker geïnstalleer, tesame met ‘n distribusiebord en behoorlike verspreiding van die elektriese kragnetwerk na alle geboue oor die hele kampus, terwyl alle koshuiskamers ook uitgeverf is.
Die span het ook aandag gegee aan die kollege se waterverskaffing, deur die toerusting van ‘n boorgat en ‘n behoorlike dak vir die kollege se water opgaardam, ekstra pype vir die aanlei van bykomende fonteinwater, en loodgieterswerk vir stortbaddens en wasbakke in die studente badkamer. Materiaal (kasdeure en vensterrame) wat uit Suid-Afrika saamgebring is, sal deur plaaslike werkers gebruik word om nog verdere verbeterings aan te bring en bouwerk te doen.
‘n Koelkamer vir die kollege se bederfbare produkte is ingerig en ‘n noodsaaklike groot afdak voor die kollegesaal is opgerig, terwyl die toegangspad tot die kollege ook verbeter is.
By die FCE Afrika-hoofkwartier in Zambië het ‘n uitreikspan gehelp met naaldwerkopleiding aan swart vroue, met die oog daarop dat hulle ‘n eie inkomste kan genereer. Verskeie voertuie is gediens en herstel en spanlede het ook deelgeneem aan bestaande kinder- en ander evangelisasiewerk.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
