ADVERTISEMENT:

 

Boere fnuik rower se ontsnappingsplan

 

News  Date: 22 October 2004

 

DENDRON – ‘n Gewaagde rooftog helder oordag, ‘n hewige skietgeveg, gevolg deur ‘n wilde jaagtog en ‘n gyselaarsdrama het Maandag hier ontvou.

Vier gewapende mans het Maandag omstreeks 10:30 toegeslaan op ‘n Fidelity sekuriteitsvoertuig wat besig was om geld te kollekteer. Die aanval het naby die poskantoor plaasgevind, terwyl die wagte oorgestap het om geld by die Nedbank-tak te gaan afhaal. Terwyl een van die wagte besig was om met die geldtrommels terug te stap na hul voertuig, het die aanvallers op hom losgebrand. Die wag is in die proses gewond, waarna die aanvallers op die sekuriteitsvoertuig begin skiet het.

Die aanvallers het egter ietwat van ‘n berekeningsfout gemaak. ‘n Tweede wag waarvan hulle nie bewus was nie, het van agter op hulle begin vuur. Te midde van die vuurgeveg is een rower in sy spore doodgeskiet, terwyl ‘n tweede gewond is. Die gewonde rower kon egter daarin slaag om te ontsnap. Hy is later by ‘n plaaslike kliniek aangekeer.

‘n Derde verdagte het tydens die skietgeveg op die vlug geslaan in die rigting van Vivo in ‘n bakkie wat hy met geweld afgeneem by ‘n persoon op die toneel. Intussen het boere in die omgewing tehore gekom van die rooftog oor hul radio’s se noodkanaal en verskeie groepe is gemobiliseer om te help met die toemaak van die pad waarop die verdagte hom bevind het.

Die verdagte kon daarin slaag om deur drie padblokkades te jaag. Dié blokkades het bestaan uit slegs een of twee boere. Sowat drie kilometer uit op die Swartwaterpad het die groep boere afgekom op die verdagte se verlate bakkie, kort nadat hy deur die derde padblokkade gejaag het. Bloed is in die voertuig gevind, asook verskeie koeëlgate in die bakwerk van die voertuig. Die verdagte het die bose ingevlug.

Die groep boere het dadelik die bloedspoor begin volg. Hulle het ook die hulp gehad van ‘n spoorsnyhond en sy jong eienaar van ‘n nabye plaas.

Kort nadat hulle die verdagte agterna gesit het, het die verdagte op die groep losgebrand met ‘n outomatiese vuurwapen. Die groep boere het dadelik uitgesprei en met meer determinasie die man agternagesit.

Vir sowat drie kilometer is die spoor gevolg. Kort-kort het die verdagte op sy agtervolgers geskiet. In ‘n stadium het die groep boere hulself voor ‘n digte bos bevind. Uit vrees dat die man homself dalk binne die bos kon bevind, is daar verder uitgesprei en deur die bos beweeg. Anderkant die digte bos het die verdagte skielik tevoorskyn gekom.

Die verdagte het ‘n AK47 op die grond neergegooi, op sy knieë gaan sit en sy hande op sy kop geplaas. Hy het herhaaldelik die groep boere in kru taal uitgedaag om hom te skiet.

Die jong spoorsnyer, wat in daardie stadium tussen die verdagte en groep boere was, het sy rewolwer in sy sak gesteek en probeer om die AK47 op te tel. Die verdagte het skielik opgespring en hom oorrompel. ‘n Worsteling het ontstaan, met die verdagte wat met alle mag en mening probeer het om die rewolwer by die jong man af te neem. Dit blyk dat die AK47 uit koeëls geraak het. Intussen het ‘n boer, gewapend met ‘n R4, die verdagte van die kant af geduik en oorrompel. Die verdagte het sy greep laat vaar op die jong man en met die boer begin stoei vir die R4. Gelukkig was die boer die sterker een en kon hy daarin slaag om beheer te hou. Intussen het die ander boere ingestorm en met ‘n pistoolkolf die verdagte uitgeslaan. Tien minute later het die polisie op die toneel opgedaag en die verdagte in hegtenis geneem.

Een van die boere wat betrokke was, mnr. Japie van der Goot, vertel dat die Dendron-gemeenskap sewe soortgelyke voorvalle in vier maande ervaar het. Hy sê dat hulle graag ‘n boodskap wil uitstuur dat die gemeenskap nie langer misdadigers gaan toelaat om te maak wat hulle wil nie. Die voorval is weereens ‘n bewys van hoe gewone mense in die gemeenskap self hande vat om misdaad te bekamp.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines