

ADVERTISEMENT:

News Date: 07 September 2007
Daar is 12 volkere wat binne 12 maande die Bybel in hul eie taal gaan hê omdat twee mense bereid is om hul gemaksone prys te gee en hul gawes vir ander beskikbaar te stel.
Professor Koos van Rooy (75) en sy eggenote, Regina (74), het die roeping aanvaar om vir ‘n jaar in Ethiopië te gaan woon sodat prof. Van Rooy met Bybelvertaling en opleiding van Bybelvertalers behulpsaam kan wees.
Tien jaar gelede, toe prof. Koos geëmeriteer het, het hy gedink dat hy op die stoep gaan sit en "saam met die son om die huis gaan skuif." Die teendeel het egter gebeur. Prof. Van Rooy van die Gereformeerde Kerk, wat verantwoordelik was vir die 1998-vertaling van die Bybel in hedendaagse Venda, het baie meer intensief met Bybelvertaling betrokke geraak, ook in Mosambiek, Zambië en Ethiopië.
Prof. Van Rooy se betrokkenheid by Ethiopië, ‘n land met 83 verskillende tale en 70 miljoen mense, het ‘n nuwe wending geneem. Kobus en Janet van Aswegen, ‘n Suid-Afrikaanse egpaar wat reeds die afgelope 13 jaar daar werksaam is met sendingwerk in die suide van die land, asook met Bybelvertaling en die opleiding van inheemse vertalers, het gesien dat daar ‘n groeiende behoefte aan die Kale Heymet, die Woord van die Lewe, is. Die evangeliese kerke groei die afgelope aantal jare sterk in ‘n land waar 35% van die bevolking Moslems is en 45% aan die Ethiopiese Ortodokse Kerk behoort, waar weinig belangstelling in Bybelvertaling bestaan. Die Bybel is nog net in ‘n paar Ethiopiese tale vertaal.
"Die 83 tale behoort tot vier taalfamilies, Semitiese tale, Kussitiese tale, Omotiese tale en die Milo Sahara tale," sê prof. Koos, wat reeds begin het om een van die Semitiese tale, Amharies, aan te leer.
Van die vyf kere wat Prof. Koos reeds Ethiopië toe was, was tannie Regina twee keer saam en hulle het goed met die Van Aswegens saamgewerk.
"Ek was egter steeds nie bedag op die roepstem wat nou tot my gekom het om ‘n volle jaar daar te gaan werk nie. Op ‘n mens se oudag word jy nesvas en kleinkindermal! En wat van die boerdery? Maar wat van daardie 12 volke?" sê Prof. Koos.
Tannie Regina het, na haar aanvanklike skok, vir hom gesê dat sy nie met ‘n Jona, wat vir sy roeping weggehardloop het nie, getroud wil wees nie.
"Ek eer my vrou vir haar gesindheid," sê prof. Koos.
Hul vier kinders en skoonkinders was aanvanklik ook huiwerig, maar het uiteindelik, saam met die 11 kleinkinders, dit so aanvaar en ondersteun hulle ten volle.
Prof. Koos se passie vir die Woord van God kom duidelik na vore wanneer hy praat oor Bybelvertaling. Hy sê dat ‘n mens dink dat jy die Bybel ken en verstaan, totdat jy dit moet begin vertaal.
"Jy moet elke woord verstaan. Jy moet elke teks in die oorspronklike taal lees en eksegetiseer," sê hy.
Prof Koos het nou weer die Bybel in twee maande deurgelees toe hy die nuwe druk van die Venda-vertaling deurgelees het.
"Dit was ons doel om die Bybel in Venda te vertaal soos wat Jesus sou gepraat het as Hy Venda gepraat het."
Prof. Van Rooy werk saam met die Summer Institute of Linguistics en die Wycliffe Bible Translators en sal ook baie aandag gee aan die opleiding en afronding van die inheemse Bybelvertaler konsultante, wat weer ander Bybelvertalers oplei. So word kennis en gawes dus deur die genade van die Here vermenigvuldig.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
