ADVERTISEMENT:

 

Die wenners in die mans- en in die vroue-afdeling van die rolstoelwedloop tydens die afgelope Saterdag se Dapper Stapper byeenkoms ten bate van Louis Trichardt se bejaardes was Oom Jan McDermott (links) en Tannie Martie Erlank. Agter, van links, is Altus Munnik, Hennie Coetzee en Lukas Vermeulen van LCV Promosies, wat die byeenkoms gereël het.

Oues baat by Dapper Stapper

 

News  Date: 07 September 2007

 

Welwillendheid, geesdrif en pret het die naweek die tweede Dapper Stapper-byeenkoms ten bate van bejaardes op Louis Trichardt gekenmerk.

Oud en jonk het tesame die verskillende pretstap items aangedurf of in die perfekte lenteweer gesellig saam gekuier onder die koeltebome voor Ons Tuiste. Bejaarde inwoners van Ons Tuiste, Laat Lente en Herfsakker is voorsien van vrolike sonskerms, terwyl kinders ook aan elkeen ‘n "lenteblommetjie" uitgedeel het.

Die wedlope oor verskillende afstande en die rolstoelwedloop het waarderende en aanmoedigende applous van die toeskouers ontlok.

Die Dapper Stapper byeenkoms is verlede jaar vir die eerste keer aangebied om die dorp se bejaardes aktief by ‘n sportbyeenkoms te betrek. Dié eerste byeenkoms het soveel belangstelling uitgelok en welslae behaal dat die organiseerders, LCV Promosies, besluit het om dit vanjaar weer aan te bied. Die reaksie was ewe geesdriftig met ‘n wedersyds verrykende deelname van jeug en bejaardes.

Sakeondernemings en sportorganisasies op die dorp is weer by die byeenkoms betrek. Sakeondernemings kon ‘n bejaarde stapper met R200 borg. Die geborgde bejaarde het ‘n band met die onderneming se naam daarop gedra tydens die staptog in ‘n sirkelroete in straatblokke rondom die ouetehuis. In die ope-afdeling kon enigiemand deelneem aan die 5km en 9,9km wedlope. Lede van die Soutpansberg Atletiekklub sowel as die plaaslike Zero to Hero-stappers het deelgeneem.

Verlede jaar se byeenkoms het, benewens al die gesonde pret, ook nog ‘n bruikbare R30 000 vir die bejaardes besorg. Vanjaar se finale resultate sal later bekend gemaak word.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines