ADVERTISEMENT:

 

Raad traag om teen “probleem” verkeersman op te tree

 

News  Date: 14 September 2007

 

Daar is nog geen duidelikheid wanneer en of die Makhado Munisipaliteit hoegenaamd gaan optree teen een van hul munisipale verkeersbeamptes wat die afgelope paar maande hom herhaaldelik skuldig gemaak het aan ‘n string verkeersoortredings, insluitend beweerde dronkbestuur nie.

Die verkeersbeampte se blatante minagting van die einste verkeerswette wat hy veronderstel is om toe te pas, het vroeër vanjaar duidelik geblyk toe die Zoutpansberger op 19 Februarie ‘n foto geneem het waar hy sy munisipale verkeersvoertuig in ‘n parkeervak parkeer het wat vir gestremde persone gereserveer is by die Makhado Crossing winkelsentrum. Sy eie kollegas moes hom met R500 beboet. Ná die publikasie van die foto, het verskeie inwoners die kantore van die koerant geskakel en gekla oor die betrokke beampte se arrogante houding en soms "onregverdige" toepassing van verkeerswette.

Intussen het die Zoutpansberger in besit gekom van afskrifte van briefwisseling vanuit Raadsgeledere waarin die verkeersbeampte se oortredings uitgelig word.

Buiten vir die insident op 19 Februarie, was daar op 5 Maart en 2 Augustus ook insidente.

Op 5 Maart het die betrokke beampte na bewering dronk by die werk opgedaag. Volgens die beskikbare inligting het die beampte die Raad geskakel en gesê dat hy laat sou wees, alhoewel hy in daardie stadium reeds laat was. Hy is aanvanklik aangeraai om eerder tuis te bly en die volgende dag skriftelik verskoning te vra, maar aangesien daar vermoed is dat hy moontlik onder die invloed kon wees, is hy gevra om dadelik by die munisipale kantore aan te meld. Met sy aankoms is sy bloed/alkoholvlak getoets. Volgens die dokumentasie in die koerant se besit was sy bloed/alkoholvlak na bewering 0,5g alkohol per 100ml bloed, instede van die toegelate 0,05g bloed per 100ml bloed.

Op 2 Augustus, die mees onlangse voorval waarvan die koerant bewus is, het die beampte versuim om vir diens by ‘n padblokkade aan te meld. Aangesien hy met ‘n munisipale verkeersvoertuig huis toe is, is hy geskakel en het na bewering "dronk" geklink. Daar is dadelik na sy woning buite die dorp gery, maar daar was geen teken van hom by sy huis nie. Hy is weer geskakel en opdrag gegee om dadelik na sy huis te kom en die verkeersvoertuig terug te besorg. Met sy aankoms met die verkeersvoertuig, lui die dokumentasie, is bevind dat hy weer onder die invloed was. Die beampte is in hegtenis geneem op klagte van dronkbestuur en na die Louis Trichardt Gedenkhospitaal gebring sodat bloed getrek kon word. Nadat bloed getrek is, het die beampte na bewering "uit aanhouding ontsnap", maar is weer op die hoek van Songozwi- en Kroghstraat aangekeer.

Terwyl daar vir die uitslag van die bloedtoetse gewag word, is daar nog geen aanduiding of die Raad enigsins van plan is om teen die betrokke beampte op te tree nie. Hy is steeds aan diens.

Klagtes rondom die beampte is skriftelik gerig aan die Raad se voormalige Direkteur van Gemeenskapsdienste, mnr. Peter Magwala. Dié se kontrak het intussen op 31 Augustus verstryk.

Die Zoutpansberger het vandeesweek met mnr. Lampie Schoeman, wat in mnr. Magwala se plek waarneem, geskakel vir kommentaar. Mnr. Schoeman het egter gesê dat hy redelik in die duister is oor die klagte teen die beampte, aangesien hy eers onlangs by mnr. Magwala oorgeneem. Hy sê hy weet dus nie wat presies mnr. Magwala al rakende die aangeleentheid gedoen het nie, maar dat hy met mnr. Magwala sal skakel om meer inligting te bekom. Mnr. Schoeman het ook aangedui dat hy so spoedig moontlik die saak sal opvolg.

 

Written by

Riaan de Swardt

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines