

ADVERTISEMENT:

News Date: 14 September 2007
Aanhouer wen ... Na die soveelste sketsplan van die ongeluk waarin twee fietsryers van Louis Trichardt raakgery is, is die saak uiteindelik afgehandel.
Die landdroskantoor het bevestig dat die beskuldigde in die saak op 6 September ‘n skulderkenningsboete van R800 geteken het. Die beskuldigde is aangekla vir roekelose en nalatige bestuur.
Volharding en volgehoue betrokkenheid by die saak aan die kant van fietsryer Antoinette Pieters het bygedra tot die oplossing van die saak.
Antoinette ag haarself gelukkig dat haar beserings vinnig herstel het sodat sy deurentyd haar vinger op die polisie-ondersoek en saak kon hou. Mede fietssryer Helena Mellett was minder gelukkig en sit steeds met penne en ‘n skroef in haar arm en baie pyn. ‘n Motoris het op 25 Junie die fietsryers op die N1 na Polokwane getref.
"Dit is onder andere Helena se pyn en mediese onkoste wat gemaak het dat ek so aangehou het. Vyf penne is al uit haar arm gehaal en die laaste twee penne en skroef kom dalk oor ‘n maand uit. Ek was amper elke dag by die polisiestasie en het gesê ek sal daar staan tot die sketsplan reg geteken is. Ek het vir hulle gesê ek is ‘n onderwyseres en ek sal kyk dat dit reg is," sê Pieters.
Die sketsplan was ‘n groot tamaletjie. ‘n Foutiewe sketsplan kan ‘n groot verskil in ‘n hofsaak maak.
"Die eerste sketsplan het ons te siene gekry ‘n week na die ongeluk. Ek het opgelet dat die pad met ‘n sperlyn geteken is en daar was geen verduidelikings by nie. Die pad het egter ‘n sperlyn met ‘n stippellyn aan die oostekant gehad, soos wat foto’s wat geneem is, duidelik gewys het," sê Pieters.
Die tweede sketsplan het wel die stippellyn in gehad, maar aan die verkeerde kant en daar was ander foute op die skets. Die staatsaanklaer het op 2 Augustus gesê dat sy nie tevrede met die sketsplan is nie en dat die polisie die bestuurders moet uitneem na die toneel. Dit het nie gebeur nie. Altans, nie totdat Pieters op 5 September daarop aangedring het om die sketsplan reg te kry en saam met die polisie na die ongelukstoneel te gaan nie.
"Toe ons by sketsplan vyf kom, was daar geen foute op nie, ek het net later agtergekom dat noord en suid omgeruil was."
Die klag wat die twee fietsryers teen die ondersoekbeampte in die saak gelê het, is intussen laat vaar, nadat aan hulle verduidelik is dat sy slegs waargeneem het.
Pieters sê dat sy graag die boodskap aan die gemeenskap wil deurgee om self verantwoordelikheid te neem by ‘n saak.
"As jy betrokke was in ‘n ongeluk, kry jou saaknommer en volg aanhoudend op. Jy moet dit persoonlik doen - en maak maar seker van die sketsplan …"
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
