

ADVERTISEMENT:

News Date: 22 October 2004
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Rioolwater is besig om oor te spoel in die vleiland op die Vondelingpad, een kilometer vanaf die nasionale pad.
Professor Ben van der Waal, hoogleraar aan die Departement van Biologiese Wetenskappe van die Universiteit van Venda sê dat die Waterwet tans oortree word omdat riool nie in natuurlike sisteme gestort mag word nie.
“By ‘n mangat 40m vanaf die vleiland borrel rioolwater oor en syfer in die vleiland in. Die effek kan gevaarlike siektekieme insluit. Mense kom daar water skep, want in die bos woon mense,” sê Prof. van der Waal.
“Ons wil nie riool in die vleiland hê nie. Ons opdrag is om te probeer om vleilande te bewaar. Nou loop riool vanaf ‘n pompstasie van Eltivillas oor in ‘n natuurlike vleiland.”
Die Makhado Munisipaliteit het onlangs laat blyk dat daar beplan word om die vleiland in die suidelike gedeelte van die munisipale stortingsterrein toe te stoot en op te vul.
Mnr. Lampie Schoeman, Hoof: Gemeenskapsdienste het gesê dat dit nie korrek is om na die betrokke gedeelte as ‘n vleiland te verwys nie. Hy het gesê dat ‘n volledige geo-hidrologiese ondersoek op die terrein gedoen is, voordat dit geskik verklaar is as ‘n munisipale stortingsterrein.
Prof. Van der Waal, wat ‘n kundige is op die gebied van vars water veldbiologie, sê dat vanuit ‘n watervoorsieningsoogpunt dit baie belangrik is om vleilande en rivieroewers te bewaar.
“Ons het ‘n baie interessante vleiland in die holte op die bokant van die bult waar die Sandrivier en Levuburivier afloop. Hoewel hierdie vleiland ‘n stelsel is wat mensgemaak is, het dit mettertyd ‘n natuurlike sisteem geword,” sê prof. Van der Waal.
“Vleilande, wat eintlik baie skaars is, bewaar water en stoor water, wat dan die ondergrondse water aanvul.
“Vleilande is plekke met verhoogde biodiversiteit, wat beteken dat daar meer spesies van byvoorbeeld waterplante, krustasiërs, voëls, paddas, reptiele en soogdiere voorkom. ‘n Vleiland het ‘n baie hoë produksiepotensiaal; die groeipotensiaal van riete, plante en voëls is baie hoog,” sê prof. Van der Waal.
Die invloei van rioolwater in die vleiland wek kommer omdat die water met allerhande bakterieë en moontlik gevaarlike siektekieme besoedel word. Volgens Van der Waal skep dit gevaar vir mens en dier. Watervoëls en paddas, wat juis nou begin broei, word direk geraak en bedreig.
“Die vleiland word tans besoedel met menslike riool. Dit is swak bestuur,” sê prof van der Waal.
Die Direkteur: Tegniese Dienste van die Makhado Munisipaliteit, mnr. Masindi Mapholi, het Maandag, 18 Oktober gesê dat die rioolprobleem by die vleiland nie ‘n groot probleem is nie.
“Dit is net ‘n onderhoudsprobleem, nie ‘n probleem met die infrastruktuur of ‘n probleem wat opgradering vereis nie.”
Hy het bevestig dat Prof. Van der Waal die probleem aangemeld het en het gesê dat hy dadelik amptenare uitgestuur het om daaraan aandag te gee.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
