ADVERTISEMENT:

 

Mev. Selma Liebenberg met klein Simoné (7) wat die pleister met naald in haar handjie vertoon, nadat sy uit die plaaslike hospitaal ontslaan is na baie onaangename ondervindings.

My nag langs 'n babalykie

 

News  Date: 29 October 2004

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) - Gru-ondervindings het op ‘n sewejarige dogtertjie gewag toe sy tydens haar hospitalisasie in die Louis Trichardt Gedenkhospitaal langs ‘n dooie baba moes lê.

Die babalykie is eers ongeveer ses ure later verwyder. Nadat die babalykie verwyder is, is die klein pasiëntjie, Simoné Paulsen, verskuif na die bed waar die baba gelê het. Simoné was beangs en het haar moeder, mev. Selma Liebenberg, gesmeek om haar huis toe te neem, want “sy wil nie doodgaan nie.” Volgens die moeder het daar in die saal oorkant die gang nog ‘n dooie pasiënt gelê.

‘n Vriend van ma Selma, mnr. Gregory Parker, het die saak aan die matrone gerapporteer, wat hom meegedeel het dat die lyk die familie se verantwoordelikheid is en dat die lykshuis net twee lyke kan akkommodeer.

Hierdie ondervinding was maar een van vele wat Simoné en haar moeder moes deurmaak in haar tydperk in die hospitaal vanaf Donderdag (21ste) tot Saterdag (23ste).

Simoné is hospitaal toe verwys deur die kliniek, nadat sy gepla is deur ‘n stywe nek, keelseer en hoofpyn. Sy is opgeneem met ‘n moontlike breinvliesontsteking, maar is ontslaan voordat al die nodige toetse op haar gedoen is.

Mev. Liebenberg vertel dat sy aan die suster gesê het dat Simoné naar word van Panadostroop, maar dat die suster skynbaar kwaai gesê het dat die kind dit sal drink. Toe die kind wel naar word, het mev. Liebenberg tevergeefs verskeie male vir ‘n bakkie gevra en moes maar self sukkel.

“Ook het Simoné se koors opgegaan en het ek die dokter gaan soek, omdat sy geneig is tot koorsstuipe. Ek het uiteindelik ‘n behulpsame suster by ‘n ander afdeling opgespoor wat ‘n setpil vir Simoné aanbeveel het. Terug in die pediatriese saal het die suster, wat nie ‘n naamplaatjie gedra het nie, my by die ander pasiënte se moeders sleggemaak in haar taal omdat ek by ‘n ander afdeling hulp gaan soek het. Ek kon gedeeltelik verstaan en die ander persone het my agterna ook vertel,” vertel mev. Liebenberg. Sy sê dat sy haar kind opgetel het en die hospitaal wou verlaat, maar dat ‘n matrone haar gekeer het en gesê het dat sy met die betrokke suster sou praat.

“Daardie nag het een baba so aanmekaar gehuil dat die moeder naderhand in trane was, maar geen verpleegster of suster het ooit naby gekom nie,” sê mev. Liebenberg. Dit het haar gehinder dat, wanneer die verpleegster medikasie afgemeet het, die dosisse skynbaar nie korrek was nie. Ses spuite van ‘n susmiddel, in plaas van moontlike ses druppels, het Simoné heeltemal laat hallusineer. “Ander medikasie se hoeveelhede het ek ook getoets met die spuit wat ek by my gehad het en dit was telkens meer as die voorgeskrewe dosis,” sê mev. Liebenberg.

Intussen is daar ook ‘n slag aan die moeder gesê dat hulle vergeet het om vir Simoné om 17:00 kos te bring en is kos uit die kombuis bestel om 20:00 toe die moeder kla.

As rede vir ontslag is gesê dat die bed benodig is, maar geen diagnose is toe nog gemaak nie. Aangesien die kind baie pyn verduur het, het die moeder pynmedikasie gevra, waarna ‘n pak Brufens voor haar neergegooi is “wat volgens my nie eers geskik is vir ‘n jong kind nie.”

Die naald en pleister in Simoné se hand is ook nie verwyder nie. “Ek sal nooit weer teruggaan soontoe nie. Daar is geen dienslewering nie,” sê die moeder.

By navraag het die hospitaal se kommunikasiebeampte, mnr. Norman Kutama, gereageer deur te sê dat hy baie tevrede voel dat die hospitaal ‘n kwaliteitdiens aan ‘n groot gemeenskap lewer. Mnr. Kutama het gesê dat die personeel wel naamplaatjies dra en as hulle nuut is en nog nie naamplaatjies het nie, die kwaliteitsversekeringsbeampte daarna sou oplet. Die kwaliteitsversekeringsbeamptes sien ook om na klagtes van ongeskiktheid en ander probleme, aangesien hulle toesien dat die Batho Pele (mense eerste) beginsels gehandhaaf word. Vir alle klagtes is daar orals in die gebou houers waarin klagtes skriftelik ingedien kan word. Klagtes word op ‘n weeklikse basis ondersoek. Die woordvoerder het gesê dat oordosering nie ‘n moontlikheid is nie en dat daar verwag kan word van siek babas om te huil, maar dat die moeders saam met die babas opgeneem word en hulle vir die babas verantwoordelik is.

Mnr. Kutama het gesê dat dooie pasiënte veronderstel is om nie meer as een uur in die hospitaal te lê alvorens hulle na lykshuise geneem moet word nie. Hy het bevestig dat die familie moet besluit of die oorledene na die regeringslykshuis of ‘n privaat instansie moet gaan.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines