ADVERTISEMENT:

 

Martin Snyman langs die watersuiweringstoestel wat hy vir sy onlangse siektetoe-stand blameer.

Watersuiweraar veroorsaak groot onmin

 

News  Date: 21 September 2007

 

Groot struweling heers tussen ‘n inwoner van Louis Trichardt en ‘n besigheid in Polokwane rondom die installering van ‘n watersuiweraar.

Inwoner Quinton Snyman het aan die Zoutpansberger vertel dat toe die watersuiweraar deur RO Waterworld in Polokwane by sy huis geïnstalleer is, hy ‘n vier-jaar-lange waarborg daarmee saam ontvang het. Dit het onder meer ingesluit dat die vier filters vir die volgende vier jaar gratis vervang sal word.

Intussen het die verhouding tussen Snyman en RO Waterworld in so ‘n mate versleg dat daar nou oor en weer beskuldigings en bewerings van dreigemente geslinger word.

Snyman beweer dat RO Waterworld nie die bepalings van hul waarborg nakom nie, aangesien hulle in November verlede jaar laas die filters vervang het. Die watersuiweraar, sê hy, gee ook deurlopend probleme. In ‘n stadium moes ‘n tegnikus van RO Waterworld ‘n waterlek aan die suiweraar kom regmaak. Snyman gaan verder so ver as om die suiweraar die skuld te gee waarom twee van sy kinders onlangs siek geraak het. Hy sê nie een van die filters werk meer nie.

Mnr. Jaco van der Merwe van RO Waterworld het tydens ‘n navraag na Snyman verwys het as ‘n "moeilike kliënt" wat ‘n "oorlas" van homself maak met sy gereelde klagtes en laataand bellery. Hy het erken dat RO Waterworld lanklaas die watersuiweraar gediens het, maar sê dat Snyman se waarborg verval het aangesien iemand anders aan die suiweraar gewerk het. Van der Merwe beweer sy tegnikus het tydens sy laaste besoek opgemerk dat van die drade op die suiweraar verkeerdelik deur iemand anders opgekoppel is. Dit is die rede waarom Van der Merwe voel hy staan onder geen verdere verpligtinge teenoor Snyman nie.

Helaas, dit lyk of die probleem nog ver van opgelos is ...

 

Written by

Riaan de Swardt

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines