ADVERTISEMENT:

 

Die eienaar van die Spur restaurant op Louis Trichardt, mnr. Tonie Bekker, bekyk die brandskade, terwyl personeel besig is met opruimingswerk.

Volgepakte Spur ontruim na brand uitbreek

 

News  Date: 21 September 2007

 

‘n Volgepakte Spur restaurant op Louis Trichardt moes Saterdagmiddag, 15 September, inderhaas ontruim word, toe ‘n brand daar uitgebreek het.

Die brand het vermoedelik ontstaan weens ‘n elektriese probleem by die suigwaaier in die dak van die kombuis. Volgens inligting kon oorverhitting van die elektriese kabels weens onreëlmatige kragtoevoer aanleiding wees tot die brand, wat vlamme bokant die kombuisplafon laat uitbars het. Dit het digte rookwolke deur die uitlaattonnel uit die kombuis laat uitborrel. Die rookkollom kon van ver buite die dorp waargeneem word, maar in die restaurant was dit grotendeels tot die agterste gedeelte van die kombuis beperk.

Ander huurders in dieselfde gebou, op verdiepings bokant die restaurant, het inderhaas voorsorg getref vir moontlike ontruiming, indien die brand sou versprei.

"Niemand is in die brand beseer nie en ons kon daarin slaag om die algehele skade tot die minimum te beperk, weens die flinke optrede van ons personeel en die bedagsame hulp wat ons van individuele polisiemanne en lede van die publiek ontvang het," het die eienaar van die Spur, mnr. Tonie Bekker, vandeesweek gesê. Net twee plafonpanele in die kombuis en al die elektriese bedrading sal vervang moet word. Geen toerusting is beskadig nie, maar die onderneming sal vermoedelik aansienlike skade ly weens gebrek aan inkomste terwyl die skade herstel word.

Opruimingswerk en ‘n intensiewe skoonmaakproses was Maandagoggend vroeg reeds aan die gang met behulp van ‘n tydelike kragopwekker en ‘n toegewyde span personeel. Die restaurant sou na verwagting reeds vroeg vandeesweek weer in bedryf kon wees.

"Onmiddellik nadat ons aandag gevestig is op die brand in die kombuis, het ons die gaste gehelp om die restaurant ordelik te ontruim. Die rook, hitte en vlamme in die plafon het die wesentlike gevaar geskep dat dit kon uitbrei na die res van die restaurant. Ons beskou dit nogal as ‘n pluimpie dat talle hul handsakke, beursies en selfone agtergelaat het en net bekommerd was om die disse waarmee hulle besig was te red," het mnr. Bekker in ligter luim opgemerk. Al die agtergeblewe besitting kon later veilig terugbesorg word aan die eienaars.

Mnr. Bekker het groot lof vir die deeglike en lojale steun van sy personeel tydens die brand. "Personeellede het uit eie beweging toegangsbeheer by die voordeur toegepas. Een van die personeellede het ná ‘n vrugtelose telefoonoproep na die brandweerstasie gery om hulpverlening met die brand te bespoedig en die brandweerdiens die pad na die restaurant te help beduie. Van die ander personeellede het, in die afwesigheid van die verkeersafdeling, gehelp met verkeerbeheer voor die gebou".

Hy het ook besondere waardering uitgespreek oor die bystand wat Superintendent Desmond Alexander van die SAPD verleen het.

"Hy het op eie inisiatief oral gehelp waar hulp nodig was. Ek kon nie glo dat iemand van sy posisie en rang op sy eie soveel kon vermag nie. Hy is beslis nie iemand wat bang is dat sy hande sal vuil word nie. Die polisiediens kan trots wees op sulke personeel."

Oor die optrede van die res van die dorp se veiligheidsdienste is mnr. Bekker minder geesdriftig.

"Ek het ná die naweek min vertroue in die dorp se veiligheidsdienste. ‘n Mens wil hulle graag so ver moontlik steun en met hulle saamwerk, maar as ons as belastingbetalers hul diens nodig het, verwag ‘n mens deeglike, professionele hulp. Saterdag was dit aan alle kante opvallend afwesig."

Mnr. Bekker sê die eerste brandweerwa wat ná ‘n aansienlike vertraging opgedaag het, was beman met net twee brandweermanne, wat opvallend onkundig was oor die gebruik van die toerusting aan boord. Hy sê die brandweermanne kon nie die brandweerwa se pomptoerusting geaktiveer kry nie en hyself en lede van die publiek moes hand bysit toe die brandweermanne ook nie instaat was om die brandslange aan die brandkraan op die oorkantste sypaadjie te koppel nie. Nadat ‘n tweede brandweerwa opgedaag het, moes mnr. Bekker self die brandslang in die gebou inneem, omdat die brandweermanne aanvanklik nie bereid was om naby die brandende kombuis te kom nie.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines