

ADVERTISEMENT:

News Date: 21 September 2007
Ongeloof, frustrasie en woede is ontketen tydens Saterdag, 15 September, se brandweerfiasko in die sentrale sake-gebied van Louis Trichardt met die betrokke owerhede se opvallend lompe hantering van die brand in die plaaslike Spur restaurant.
Omstanders het hul duidelike irritasie te kenne gee met wat sommiges beskryf het as ‘n "onprofessionele getjommel" en ‘n "ondenkbare veiligheidsirkus". Vir ander was daar ‘n verligting van die spanning in die komiese toneel van brandweermanne wat herhaaldelik hulleself in ‘n spuitende waterontploffing bevind het in hul vrugtelose pogings om ‘n brandslang te probeer koppel aan ‘n brandkraan waarop die koppelstukke nie pas nie.
"Dit lyk soos iets tussen Waterkaskenades en televisie se Show me the Funny," het een omstander opgemerk.
DA-raadslid Jackey Underwood van die Vhembe Distriksmunisipaliteit het in ‘n amptelike mediaverklaring die brandweer veroordeel vir "sy onvermoë om ‘n aanvaarbare nooddiens te lewer."
"Die eerste prioriteit van enige dorp se brandweerafdeling is om die veiligheid van sy inwoners te verseker, om onmiddellik beskikbaar te wees in ‘n aanvaarbare reaksietyd met ten volle opgeleide brandweerpersoneel en toebehore wat ten volle funksioneer," lui Underwood se verklaring.
Underwood het die brandweer veroordeel vir hul trae reaksietyd van omtrent 20 minute, ten spyte van die feit dat die brandweer so naby aan die toneel geleë is. Sy sê dit is onaanvaarbaar en dat mense in hierdie tydperk in sekere omstandighede kan doodbrand.
"Volgens omstanders het dit geblyk dat die brandweermanne, toe hulle wel opdaag, nie bevoeg was in hul pligte nie. Daar was uiteindelik twee brandweerwaens op die toneel, maar die water in die waens kon nie gebruik word nie as gevolg van die brandweermanne se onkunde. Hulle het nie geweet hoe om die brandweerwaens se pompe te aktiveer nie en moes toe hulleself wend na die brandkraan aan die oorkant van die straat. Hierdie uitweg was eweneens futiel, aangesien hulle klaarblyklik ook nie geweet het hoe om die koppeling te doen nie. ‘n Verdere vertraging van bykans 35 minute het gevolg, terwyl hulle ‘n brandweerman wat van diens af was, se hulp moes inroep," sê Underwood.
Underwood het beklemtoon dat alle noodvoertuie en toerusting ten alle tye gediens moet wees.
"Nood beteken presies dit, dat daar geen tyd gemors kan word met voertuie, toerusting en personeel wat nie op standaard funksioneer nie, terwyl geboue afbrand, eiendom beskadig en mense dalk sterf," sê Underwood. Sy het ook haar verontwaardiging uitgespreek oor die opvallende afwesigheid van die dorp se verkeerspersoneel.
Die Vhembe brandweerhoof in Thohoyandou, mnr. Mphigalale, het by navraag gesê luidens die skriftelike verslag van die brandweerstasie op Louis Trichardt, het hulle die noodoproep om 14:28 ontvang en onmiddellik om 14:30 vertrek. Die brandweer se amptelike verslag beweer verder dat die brandweermanne by hul aankoms op die toneel tot die gevolgtrekking gekom dat dit nie ‘n ernstige brand is nie en daarom besluit het om eerder die brandkraan op die sypaadjie te gebruik as die water in die brandweerwa. Hulle het die brandslang aan die brandkraan gekoppel en kon onmiddellik die brandprobleem in die restaurant hanteer. Hy het bevestig dat die verslag geen melding maak van enige probleem met die koppeling van die brandslang aan die vuurkraan op die sypaadjie nie. "Dit is uiters eenvoudig om so ‘n vashegting te maak en daar kan eintlik geen probleem wees nie. Jy steek eenvoudig die pyp in die kraankoppeling in en dit is dit," het mnr. Mphigalale gesê.
Volgens die verslag het die senior plaaslike brandweerman, mnr. Phineas Malanga, hom later by die personeel op die toneel aangesluit en beheer oorgeneem. "Hy was aan diens, maar buite die brandweerstasie besig met iets anders toe die aanvanklike oproep ingekom het," het mnr. Mphigalale gesê. Hy sê hy sal persoonlik kom ondersoek instel na die verskil tussen die skriftelike verslag wat hy ontvang het en die klagtes van lede van die publiek.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
