ADVERTISEMENT:

 

Bejaarde vrou herhaaldelik voor beseerde man verkrag

 

News  Date: 28 September 2007

 

‘n Bejaarde egpaar op Musina is Woensdag vroegdag in hul woonhuis deur twee gewapende mans oorval, ernstig beseer en beroof.

Die bejaarde man is in sy bed oorval en ernstige meswonde toegedien. Sy eggenote, wat uit ‘n ander vertrek op sy noodkrete gereageer en hom te hulp gesnel het, is ook met die mes toegetakel en daarna herhaaldelik verkrag – terwyl haar ernstig- beseerde man magteloos moes toekyk.

"Hulle was bo-op hom en het net aangehou steek met die mes. Hy het vreeslik geveg en dit was oral net bloed. Ek het geskree Please don’t kill him, please, if you believe in God, don’t kill him!" het die erg getraumatiseerde vrou in ‘n telefoniese onderhoud gesê.

Een van die aanvallers het toe op haar afgestorm en met die mes in die arm gesteek, haar geskop en gestamp en na die kombuis gesleep, waar hy haar verkrag het. Sy is daarna weer na die kamer gebring waar haar man gelê het en beurtelings deur altwee die mans verkrag.

Die booswigte het met die egpaar se selfoon, juweliersware, klanktoerusting en ‘n bedrag kontant weggekom, voordat hulp ontbied kon word.

Die gesin se huisdokter was een van die eerstes wat op hul noodoproepe gereageer het. Volgens die getraumatiseerde slagoffer het die polisie later opgedaag waar die egpaar mediese sorg ontvang het. Altwee slagoffers het baie bloed verloor.

Luidens ‘n mediavrystelling wat op versoek uitgereik is deur die kantoor van provinsiale kommissaris Sengani, word ‘n voorval van gewapende roof en verkragting ondersoek.

Volgens die verklaring het die mans toegang tot die woonhuis bekom deur die deur met ‘n koevoet oop te forseer. Hulle het die 67-jarige man en sy 65-jarige eggenote oorval. Volgens die polisieverklaring is die man sewe keer met ‘ n mes gesteek en in ‘n ernstige toestand in die hospitaal opgeneem.

Die polisie sê die soektog na die verdagtes duur voort.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines