

ADVERTISEMENT:

News Date: 29 October 2004
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Gemoedere het verlede Donderdag (21ste) telkens opgevlam tydens ‘n gemeenskapsvergadering wat belê is deur die polisie.
Inwoners het in hul honderde opgedaag by die plaaslike skousaal met die verwagting dat die polisie, na die gru-moorde op die Hayward-egpaar die vorige dag, die gemeenskap sou toespreek oor die verslegtende misdaadsituasie in die omgewing. Groot was hul ontnugtering egter toe hulle meegedeel is dat die vergadering slegs tegnies van aard was vir die bespreking en daarstelling van polisiëringsektors in die buitegebiede.
Ten spyte hiervan het die gemeenskap steeds die geleentheid gebruik om die polisie aan te vat oor die huidige wettelose toestand. Humeure het soms opgevlam en gemeenskapleiers en senior polisiebeamptes moes inwoners herhaaldelik versoek om kalm te bly. Telkens is sprekers ook daarop gewys dat, ten spyte van hul gevoelens, die vergadering nie as platform moet dien vir politieke uitsprake en kritiek teenoor die polisie nie. Baie inwoners het die vergadering verlaat met ‘n gevoel van teleurstelling weens ‘n gebrek aan vordering in die stryd teen misdaad.
Een van die aspekte wat tydens die vergadering aangeroer is, was die aankondiging van die Soutpansberg Distrikslandbou-unie dat hulle alle samesprekings met die regering ten opsigte van die grondeise-kwessie opskort. Die vergadering het egter met betrekking tot die polisie sy doel bereik, aangesien baie inwoners in die buitegebiede hulself bereidwillig verklaar het om op die tree as sektorhoofde ingevolge die polisie se sektor polisiëringsplan.
In ‘n opvolgbrief aan die Hoof Grondeisekommissaris in Polokwane, sê die Soutpansberg DLU die rede vir die opskorting van samesprekings is die ongekende toename in misdaad met die klem op geweldsmisdaad, waaronder plaasaanvalle en gepaardgaande moorde. In ‘n ander skrywe aan die nasionale polisiekommissaris, kommissaris Jacky Selebi, waarsku die Soutpansberg DLU dat die voortgesette wettelose toestand en die polisie se skynbare onvermoë om misdaad te bekamp, die boeregemeenskap sal noop om hulself beter te beveilig en te bewapen.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
