

ADVERTISEMENT:

News Date: 28 September 2007
‘n Verwoestende veldbrand het Saterdag, 21 September, groot dele van die Soutpansberg-bergreeks langs die Bluegumspoortpad in puin gelê. Buiten vir die vernietiging van veld en plantasies, is talle kraglyne ook deur die vuur verswelg.
Die veldbrand het grootskaalse paniek veroorsaak. Gastehuiseienaar mev. Mona du Plessis van die Ultimate Gastehuis het Dinsdag aan die Zoutpansberger gesê dat hulle uit vrees vir hul gaste se lewens die gastehuis moes ontruim. Die brand het tot teenaan die gastehuis gewoed en een van hul personeelkwartiere was in ‘n stadium in gedrang. Die brand het die plaas oorkant hulle totaal in puin gelê, nadat dit oor die Bluegumspoort-pad gespring het.
Mev. Du Plessis sê dat, buiten vir die skade aan hul plaas, het hulle ook as gevolg van die brand geweldige finansiële verliese gelei. Ten tye van die brand was hulle besig om drie funksies aan te bied. Dit moes inderhaas gekanselleer word. Nadat hulle die gaste ontruim het, het van die personeel agtergebly en met swembadwater probeer om die vuur vanaf die strukture weg te hou.
Dit is nie seker hoe die brand ontstaan het nie, maar daar word vermoed dat dit op die plaas van mnr. Mark Kirkcohen ontstaan het. Volgens onbevestigde gerugte is mense opgemerk waar hulle ‘n gedeelte van die plaas aan die brand gesteek het.
Die brand het weereens vraagtekens geplaas oor die optrede van die Vhembe Distriksmunisipaliteit se brandweer op Louis Trichardt. Volgens DA-raadslid mnr. Brian du Plooy was die brandweer traag om te reageer. Hy sê die brandweer is geskakel voordat die brand buite beheer geraak het. Na talle verdere oproepe, sê hy, het die brandweer eindelik wel opgedaag - nie met hul groot brandweerwaens nie, maar met hul klein brandbestrydingsbakkie. Die toerusting op die bakkie, sê Du Plooy, was nie naastenby voldoende om die vlamme te keer nie.
Du Plooy sê hy het weer die brandweer geskakel, maar is ingelig dat beide die groot brandweerwaens uitgestuur is na onderskeidelik Mara en Elim. Intussen is die hulp van LMB Makhado ontbied, wat binne ‘n uur brandweerwaens op die toneel gehad het. Du Plooy beweer hy is intussen dorp toe en het opgemerk dat toe hy verby die brandweerstasie gery het, beide groot brandweerwaens by die stasie opgemerk het.
Die veldbrand die afgelope naweek is voorafgegaan deur ‘n soortgelyke verwoestende veldbrand langs die Roodewal-pad op Donderdag, 20 September. Digte rookwolke was vir kilometers sigbaar. Met die Zoutpansberger se aankoms op die toneel was brandbestryders van Komatieland reeds besig om te swoeg om die vlamme onder beheer te kry. Tydens dié brand het die brandweer op Louis Trichardt vlugtig reageer. Die vlamme kon oorwin word voordat dit ‘n plaasopstal kon bereik, maar die vuur het skielik gedraai en oor ‘n pad gespring. Teen dié tyd was beide Komatieland, asook die plaaslike brandweer se brandweerwaens leeg en moes daar inderhaas teruggekeer word. Gelukkig was ‘n tweede brandweerwa reeds op die toneel.
In reaksie op klagte oor die brandweer se optrede tydens die Bluegumspoort-brand het die Vhembe Distriksmunisipaliteit se brandweerhoof, mnr. Surprise Mphigalale, vandeesweek aan die Zoutpansberger gesê dat hy deel was van die span wat uitgestuur is na die brand. In teenstelling met Du Plooy se bewering sê Mphigalale dat hulle baie positiewe kommentaar ontvang het oor hul reaksie.
Mphigalale het gesê die rede waarom die klein bakkie eerste ontbied is, is weens die feit dat dié voertuig spesifiek vir dié doel ontwerp is. Dit is klein genoeg om op nou plaaspaaie en deur digte bosse te beweeg. Mphigalale het genoem dat die groot brandweerwaens eintlik bedoel is vir gebou- en struktuurbrande en dat dit slegs in uiterste omstandighede ontbied word, soos wat wel die geval was nadat die wind die vuur buite beheer geplaas het. Die vuur is tot vyfuur Saterdagmiddag met die hulp van die groter waens beveg, waarna hulle die volgende dag teruggekeer het om seker te maak dat alles onder beheer is.
Mphigalale het ter afsluiting gesê hy verstaan nie waar inwoners se uitermatig negatiewe houding en uitlatings teenoor die plaaslike brandweer nou skielik vandaan kom nie, en het inwoners gerusgestel dat die brandweer bevoeg is om enige noodsituasie te hanteer.

ADVERTISEMENT:
