

ADVERTISEMENT:

News Date: 28 September 2007
‘n Ploftoestel wat binne ‘n sak skrootmetaal gevind is op Vrydag, 21 September, het lede van die Louis Trichardt polisie groot skrik op die lyf gejaag.
Die ploftoestel is deur ‘n skrootmetaalhandelaar ontdek, nadat hulle begin het om ‘n sak skrootmetaal uit te sorteer wat minute vantevore vanaf ‘n onbekende man aangekoop is.
Die polisie is dadelik geskakel en minute later het hulle met sirenes aan by die skrootmetaalhandelaar opgedaag.
Plaaslike polisiewoordvoerder kapt. Maano Sadike het gesê die ploftoestel het soos ‘n handgranaat gelyk en bomdeskundiges van Thohoyandou is ontbied.
Met die aankoms van die bomdeskundiges op die toneel is daar tot groot verligting van almal bevind dat die toestel ‘n oefengranaat was en nie meer lewendig was nie. Kapt. Sadike het gesê die situasie kon heel moontlik anders gewees het en lewensverlies tot gevolg gehad het. Hy het lede van die publiek versoek om enige suspisieuse toestelle dadelik aan die polisie te rapporteer.

ADVERTISEMENT:
