ADVERTISEMENT:

 

Munisipale werkers het Vrydag, 28 September, verkeersvloei op die N1 en binne die sentrale sakegebied van Louis Trichardt tot stilstand gedwing tydens ‘n protesoptog ter ondersteuning van die verandering van die dorp se naam.

Werkers betaal om te staak

 

News  Date: 05 October 2007

 

Die Makhado Munisipaliteit se jongste poging om steun te werf vir die verandering van Louis Trichardt se naam het Vrydag, 28 September, grootskaalse ontwrigting in die sentrale sakegebied, asook verkeersvloei op die N1, teweeggebring.

Inwoners is behoorlik die harnas ingejaag toe verkeersvloei skielik Vrydagoggend deur lede van die munisipale verkeersfadeling vanaf die N1 deur die dorp geforseer is, om munisipale werkers die geleentheid te gee om ten gunste van ‘n naamsverandering te betoog. In ‘n stadium is verkeersvloei in die dorp heeltemal tot stilstand gedwing as gevolg hiervan.

"Die laaste keer toe ‘n optog naby die N1 gekom het, het die polisie summier agt inwoners gearresteer," was een omstander se opmerking. Hy het verwys na die dorp se vreedsame protesoptrede teen die regering se volgehoue poging om swaarvoertuie deur die dorp oor die Soutpansberg te forseer. Die protesoptrede het op 1 April 2004 plaasgevind, nadat twee van die dorp se jong kinders dood is na ‘n weghol-vragmotor teen hul voertuig gebots het.

Soos op 1 April 2004 was daar verlede Vrydag weer ‘n sterk polisie teenwoordigheid, maar anders as destyds, toe die agt inwoners gearresteer is omdat hulle die "N1 versper" het, was die polisie hierdie keer daar om die betogende munisipale werkers beide op die N1 en in die dorp te vergesel.

Die munisipaliteit is ook sterk gekritiseer oor hul tydsberekening ten opsigte van die optog, aangesien hulle dit op maandeinde gehou het. Omstanders het die munisipaliteit daarvan beskuldig dat dit ‘n doelbewuste poging tot absolute ontwrigting was. Die optrede van die optoggangers was sprekend hiervan aangesien hulle, in twee kleinerige groepe, van kruising tot kruising beweeg het, waar hulle eers vir lang periodes stilgestaan en verkeersvloei tot stilstand gebring het.

Dat die optog uiters ontwrigtend was vir inwoners en besigheidsmense wat net hul dagtaak wou verrig, is ‘n gegewe, maar hoe suksesvol dit was word bevraagteken, veral as daar gekyk word na die swak opkoms van betogers. Volgens ANC-plakkate moes die optog reeds om 09:00 begin, maar aangesien daar klaarblyklik te min mense was, het die optog eers rondom 11:00 begin. Twee ure later was hulle steeds besig. Die mees kommerwekkende aspek van die hele optog was egter die feit dat die munisipale werkers met vol betaling aan die optog deelgeneem het.

In reaksie op vrae het die munisipaliteit se munisipale bestuurder, me. Faith Muthambi, Dinsdag gesê dat die optog as wettig verklaar is na samesprekings tussen die munisipaliteit, polisie en ander rolspelers. Sy het beaam dat geen geld van die munisipale werkers wat aan die optog deelgeneem het, afgetrek gaan word nie aangesien, soos sy verduidelik het, hulle dit in "hul eie tyd" gedoen het. Muthambi sê dat die munisipale werkers elke maand twee ure in werkstyd gegun word om hul eie dinge te doen en dat die optog gedurende hierdie tydperk plaasgevind het.

Dit is ten spyte van die feit dat die optog vanaf 09:00 tot ongeveer 14:00 geduur het. Muthambi sê die werkers het na die optog teruggekeer werk toe.

Wat die sluiting van die N1 betref, het me. Wendy Watson, amptelike woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap onder wie se beheer die N1 val, gesê hulle dra geen kennis van enige ontwrigting op die N1 op Vrydag nie. Sy het bygevoeg dat die padagentskap geen seggenskap het ten opsigte van polisiëring op die N1 nie.

Die sterkste kritiek teen die optog het egter gekom van mnr. André Naudé, voorsitter van die Voorsittersvereniging, wat vroeër vanjaar hul Appèlhofsaak teen die aanvanklike naamsverandering gewen het.

"Dit was weereens ‘n totale vermorsing van belastingbetalers se geld en dit is duidelik dat die Raad en hul werkers hulself bo die land se wette ag. Hulle neem letterlik die reg in eie hande, deurdat hulle in werkstyd, met betaling konsulteer. Dit is duidelik dat hul opkoms maar pateties was," het Naudé gesê. Hy het Vrydag se optog beskryf as ‘n wanhopige laaste poging van die munisipaliteit om steun te werf vir die naam Makhado, terwyl hulle weet daar het nie genoeg mense by hul konsultasie vergaderings opgedaag het nie en dat dié wat daar was met busse van vergadering na vergadering aangery is.

"Hierdie was ‘n uitsluitlike poging van die politici om die naamsverandering proses te probeer manipuleer. As daar gekyk word na die steun wat hierdie hele proses vanuit die gemeenskap ontvang, is dit duidelik daar is nie ‘n behoefte daartoe by die publiek nie en die publiek stel ook nie belang in die hele proses nie," het Naudé gesê.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines