ADVERTISEMENT:

 

Aftrekkings laat onderwysers se begrotings nie klop

 

News  Date: 05 October 2007

 

Onderwysers en hul gesinne is ontwrig deur oneerlike aftrekkings van die onderwysdepartement se kant.

Sommige gesinne, waar beide ouers onderwysers is, het skielik selfs tot R3 000 minder vir hul huishoudelike begroting gehad. In die meeste gevalle het die plaaslike onderwysers net een dag gestaak, terwyl daar voor die voet drie dae se salaris afgetrek is, met die vooruitsig dat dit vir die volgende twee maande ook so kan gebeur.

Onderwysers van die Louis Trichardt Laerskool en Hoërskool het op hierdie onbillike situasie gereageer.

"Ek kon nie hierdie maand my kind se losies in die stad betaal nie," sê me. Ogies Nel.

"Mens kan nie net drie maande na mekaar die storietjie gaan vertel ‘Ek kan nie betaal nie’ en alle instansies is nie ewe simpatiek nie," sê me. Annelien de Lange.

Dit was juis ‘n oproep van die bank wat vir mnr. Henry Denner, skoolhoof van Louis Trichardt Hoërskool, snuf in die neus laat kry het.

"ABSA Bank het my geskakel en gevra of ek van iets weet, want onderwysers stroom in om kar paaiemente nie ten volle te laat afgaan nie. Ons unie, SAOU, het toe navraag gedoen en begin om ‘n hofinterdik teen die departement te verkry," het mnr. Denner Dinsdag gesê.

Mnr. Louis Linde, skoolhoof van Laerskool Louis Trichardt, het bevestig dat SAOU ‘n dringende hofbevel gekry het dat die Limpopo Departement van Onderwys die salaris van die onderwysers binne sewe dae moet terugbetaal. Beide hoofde was onseker of dit prakties moontlik vir die departement sou wees om dit op hulle stelsel reg te kry.

Tydens die landswye staking van onderwysers vanaf 1 tot 22 Junie, het dié twee skole se onderwysers, wat meestal aan SAOU behoort, net een dag (op 1 Junie) gestaak. Hulle het die nodige stakingsregisters ingevul en ingestuur. Verder moes daar ook beëdigde verklarings afgelê word deur die onderwysers.

"Ons word nou saam met die meerderheid gestraf. Wat het ons nou gebaat deur die risiko te loop om met die werk aan te gaan? En wanneer hulle terugbetaal, sal daar hoër belastingimplikasies wees," sê me. De Lange.

"Ons het nie heeltyd gestaak nie en het beter behandeling van die departement se kant verwag. Dit is ’n teleurstelling dat hulle nie net administratief ‘n berekening kan maak nie. Dit ondermyn ‘n mens se vertroue," sê mnr. Jan Krugell.

Mnr. Bethuel Tshivenga behoort aan ‘n ander unie, SADOU, en het die volle tydperk gestaak. Ses dae se salaris is in September by hom afgetrek, met die vooruitsig van nog twaalf dae oor die volgende twee maande.

"Ek het kinders wat op tersiêre vlak studeer. Ek het natuurlik die aftrekkings verwag, maar nie so baie nie, want hulle het gesê dat hulle in totaal ses dae sal aftrek. Ons moet nou maar net die gordels stywer vastrek," het mnr Tshivenga gesê.

Me. Sarisa Botha sê dat ‘n mens volgens ‘n begroting lewe en dat so ‘n aftrekking enigiemand sal ontstel. Me. Tina Esterhuizen sê dat sy nie haar beplanning vir haar vakansie kon deurvoer nie.

Waar beide ouers onderwysers is, soos Greg en en Elzabé Stewart en Theo en Riana Muller, verdubbel die impak van die onbillike aftrekkings. "Ek mag nie kla nie, maar dis ‘n ontwrigting om jou verpligtinge na te kom," sê me. Muller.

Me. Nellie Wolmarans het besluit dat sy dit maar as spaargeld gaan beskou, "As dit terugkom, is ek bly."

Nie-doserende personeel het nog erger aan die pen gery en geld is al by hulle afgetrek vanaf Julie.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines