

ADVERTISEMENT:

News Date: 05 October 2007
Twee verdagtes van onderskeidelik 25 en 32 jaar is aangekeer na ‘n inbraak by die KFC op die hoek van Grobler- en Songozwistraat gedurende die vroeë oggend ure van Sondag, 30 September.
Behalwe vir die arrestasie van die twee verdagtes, is daar ook daarin geslaag om die brandkluis wat tydens die inbraak gesteel is aan mnr. Eddie Da Silva, eienaar van dié KFC-franchise op Louis Trichardt, terug te besorg, sonder dat dié booswigte daarin kon slaag om dit oop te kon kry.
‘n Baie moedelose Da Silva het aan die Zoutpansberger gesê dit lyk of daar net geen einde is aan die reeks misdade wat hy tans ervaar nie, aangesien hy skaars ‘n maand terug by sy huis deur gewapende rowers beroof is.
Volgens Da Silva is die inbraak die afgelope naweek kort na oopmaaktyd deur ‘n skoonmaker opgemerk wat gesien het ‘n agterdeur is oopgebreek. Da Silva is van die inbraak ingelig, wat dadelik vir mnr. Fanie Geyer van Big Five Sekuritietsdienste geskakel het.
Volgens Da Silva was dit Geyer se flink optrede wat daartoe gelei het dat sy gesteelde brandkluis spoedig in die boompark opgespoor is.
Geyer vertel dat hy nog voor die polisie op die toneel was. Hy het begin rondkyk en die spoor van ‘n kruiwa opgemerk wat vermoedelik gebruik is om die kluis, wat te swaar was om te dra, mee weg te stoot. Intussen het die polisie opgedaag, waarna Geyer hulle van sy fonds ingelig het en saam met hulle die bosse in die boompark begin deursoek. Kort daarna is die kluis opgespoor waar dit onder takke versteek is.
In daardie stadium, sê plaaslike polisiewoordvoerder kapt. Maano Sadike, is die hulp van die polisie se honde-eenheid ingeroep. Kort daarna is die verdagtes aangekeer.
Da Silva sê hy is dankbaar vir Geyer se goeie speurwerk en dat sy kluis so vinnig weer gevind is. Teen druktyd was dit nie seker of die verdagtes al in die hof verskyn het nie.

ADVERTISEMENT:
