

ADVERTISEMENT:

News Date: 05 October 2007
Strome van heerlike reën die afgelope week en vooruitsigte van ‘n goeie seisoen … hoeveel beter kan dit nog gaan?
"Die Limpoporivier kom af! Die besproeiingsboere langs die Limpopo het nou weer genoeg water," berig TLU-SA Noord.
Oor die laaste ses dae in September is daar 74mm reën gemeet by Stevens Lumber Mill Shefeera op die Witvlagpad. In dieselfde tydperk is daar 65mm gemeet op die plaas Mirandela net buite Louis Trichardt.
By die munisipale reënmeter in Louis Trichardt is daar slegs vir die eerste twee reëndae in September metings geneem, 10mm in totaal, en daarna nie weer nie.
"Dit is die natste Julie, Augustus en September wat ons die afgelope tien jaar beleef het en alle langtermyn aanwysers is in plek vir ‘n goeie seisoen," sê mnr. Guy Whitaker, wat al die laaste 37 jaar rekord hou van die reënval op sy plaas, Mirandela. In September is daar 65mm reën gemeet en in Julie en Augustus vanjaar onderskeidelik 65mm en 16 mm. Vir Oktober is daar 8mm gemeet teen Dinsdag met steeds verdere deurdringende buie wat daarna geval het.
"Ons winterreën (Julie, Augustus en September) is bo die 30-jaar gemiddeld," sê André Kruger van Steven Lumber Mill Shefeera.
"Dit lyk of Oktober ook ‘n bogemiddelde reënval gaan hê en volgens dié tendens behoort ons ‘n bogemiddelde somerreënval te kry. Die somers wat verby is, was baie wisselvallig, of ver bo die gemiddeld of ver onder. Dit lyk of ons nou uit die sewe-jaar droogte siklus beweeg," sê Kruger.
Mnr. Gideon Meiring, voorsitter van Soutpansberg Distriks Landbou-unie, het gesê dat die boere geweldig dankbaar is vir die wydverspreide reën. By Bandelierkop het tussen 45 en 60mm reën geval, by Alldays tussen 70 en 120mm, by Levubu tussen 50 en 77mm, by Waterpoort 72 tot 80mm, by Mopani tot 120 mm en langs die Sandrivier tot 140mm, berig die DLU.
Mnr. Willem Helm, voorsitter van Mopanie Boerevereniging, het somme gemaak om die waarde van die reën te verduidelik. Helm sê dat, as dit 70mm reën, dit beteken dat daar 700 kubieke meter water op een hektaar val. Daar val dan 2,1 miljoen kubieke meter water op ‘n plaas van 3 000 hektaar. "Dit is die hoeveelheid water wat oor een naweek geval het. Besproeiingsboere sal weet hoeveel dit werd is," sê Helm.
By die Albasinidam het daar 45.8mm reën geval sodat die damvlak nou op 39.33% staan. Die Middel Letabadam staan op 14.74% nadat daar 59mm geval het. Die Nandoni dam is 95.51% vol na 84mm reën. Die Glen Alpinedam staan op 4.1% na 30mm reën, die Nzhelele op 49.48% (69mm), die Luphephe op 38.05% (71mm), die Nwanedi op 68.85% en die Vondodam op 79.24%. Die damvlak persentasies en reënsyfers is deur die Departement van Waterwese en Bosbou aangegee soos op 1 Oktober.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
