

ADVERTISEMENT:

News Date: 05 October 2007
Minderheidsgroepe bevind hulle al meer in die posisie waarin hulle hul stem hoorbaar wil hê. Die pogings tot die naamsverandering van plekke laat oral die vraag van die billikheid van ‘n meerderheidstem versus die openbare belang ontstaan.
Die plaaslike kantoor van die amptelike opposisie, die Demokratiese Alliansie, het in ‘n verklaring vandeesweek gesê dat hulle ten sterkste beswaar aanteken teen die prosedure wat gevolg word in die huidige naamsveranderingsproses van Louis Trichardt.
"Die DA is nie teen naamsverandering per se nie, maar die prosedure is nie korrek gevolg nie."
Intussen het ondersteuners vanaf Louis Trichardt meegedoen aan ‘n gesamentlike optog vanaf Melville na die SAUK in Aucklandpark op Erfenisdag, 24 September.
Die groot groep ondersteuners vanaf Louis Trichardt het onder die opskrif Louis Trichardt is Louis Trichardt ook meegedoen aan die algemene gevoel teen naamsveranderinge in verskeie dorpe en stede.
Steve Hofmeyr, bekende sanger en sosiale aktivis, was een van die sprekers en ondersteuners. Steve het ‘n spesiale woord van verwelkoming vir die Louis Trichardt-groep gehad en op plaaslike matriekseun, Walter Gilfillan, se hemp geskryf, Steve lief Louis Trichardt.
"Dit kan nie en dit mag nie, want ons saak is reg," het die protesgangers vanaf Steve Hofmeyr gehoor. Die groep het ‘n protesskrif met 90 000 handtekeninge van beswaardes aan SAUK-woordvoerder Kaizer Kganyago oorhandig. Die ongelukkigheid gaan onder andere daaroor dat die media steeds voortgaan om na Pretoria as Tshwane te verwys.
Die vraag of daar net ruimte vir die meerderheid is, het ook opnuut opgevlam na uitsprake van Raadslid TJ Mudau, voorsitter van die naamsveranderingskomitee van die Makhado Munisipaliteit.
"In hierdie saak sal ons nie individuele belange in ag neem nie, maar die meerderheid sal wen" en "Die mense sal regeer," het Raadslid Mudau op 14 September gesê.
Die DA het by monde van Raadslid Brian du Plooy gereageer dat die uitlatings nie korrek is nie, omdat ander mense nie in ag geneem word nie.
"Die mense is nie voldoende geleentheid gebied om hul inspraak te lewer nie. Die gemeenskap in die omgewing self moet in ag geneem word en daar moet gekyk word of hulle gelukkig is," sê rdl. Du Plooy.
Bekende inwoner me. Inga Gilfillan het ook gereageer. "Wanneer mense hulle beywer vir die behoud van ‘n naam, gaan dit nie net oor ‘n naam nie. Dit gaan ook nie net oor ‘n historiese figuur nie, of oor die volg van ‘n proses nie - dit gaan oor baie, baie meer. Dit gaan oor respek vir andere se kultuurgoedere, oor respek en ruimte vir almal … of is daar net ruimte vir die meerderheid?" sê me. Gilfillan.
Na afloop van die protesoptog in Pretoria, het ondersteuners van Louis Trichardt genoem dat hulle nie alleen in die naamsverandering debakel is nie en dat daar landswye teenkanting oor kultuur-, erfenis- en ekonomiese redes is.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
