ADVERTISEMENT:

 

Hulpverleningsprojek op Musina help ontwrigte mense uit res van Afrika

 

News  Date: 05 October 2007

 

‘n Kerklike hulpverleningsprojek, wat veral gemik is op die verligting van nood van ontwrigte mense uit die res van Afrika, is op Musina aangekondig.

Die AGS se El Shaddai-gemeente op Musina het aangekondig dat kos en, indien nodig, ook klere weeksdae by die kerk beskikbaar gestel sal word aan behoeftige en ontwrigte mense.

Pastoor Boetie Visser van die gemeente het vandeesweek in ‘n onderhoud bevestig dat sy kerk gerat is om die toenemende nood van veral ontwrigte mense uit die res van Afrika op die dorp te help verlig.

Hy sê die breë kerk en sy gemeente gee al jare lank kos vir behoeftige mense en die kerk het nou fondse bewillig vir ‘n permanente voedingskema op ‘n georganiseerde skaal. Die plaaslike polisiediens op Musina, tesame met die weermag en munisipaliteit, is amptelik verwittig van die kerk se hulpskema. Dié amptelike instansies is ook uitgenooi om alle onwettige immigrante wat hulle hanteer, op weeksdae na die kerk te bring vir ‘n ordentlike bord kos en ook vir noodsaaklike klere wat hulle mag benodig.

"Ons kry hier te doen met mense uit alle dele van Afrika - Soedan, Ruanda en die afgelope tyd veral ook uit die DRK. Ons ondervinding, ook van die geweldige toestroming uit Zimbabwe, is dat die mense meestal werklik heeltemal niks het nie. Baie van die mense word tussen Beitbrug en Musina beroof deur georganiseerde bendes, bekend as die Gumba-gumba. Om sulke mense, wat beroof is van die bietjie waarmee hulle uit die land is, sonder meer bloot terug te stuur na die omstandighede waaruit hulle probeer wegkom het, is erg. Die polisie doen net hul werk en is die afgelope tyd baie bedrywig met die opruiming en deportasie van Zimbabwiërs uit die dorp en omgewing. Ons beskou dit as ons morele plig om te help om die menslike nood van hierdie mense te verlig."

Gevra na die onlangse formele waarskuwing deur die SAPD dat die publiek moet kennis neem van die feit dat dit onwettig is om enige vorm van hulp te verleen aan onwettige immigrante, sê pastoor Visser: "Die President het gesê ons moet gewoond raak aan die situasie en die teenwoordigheid van dié mense. Ek laat my lei deur ons kerk se morele plig om nood aan te spreek. Wanneer iemand besig is om dood te gaan van die honger en ontbering, vra ons nie wie jy is en waar jy vandaan kom nie. Ons huisves nie mense nie, ons is ingerig om aan behoeftiges kos te verskaf in ‘n basiese restaurant opset."

Pastoor Visser sê dit sou die taak van die kerk aansienlik makliker gemaak het as die owerheid pro-aktief opgetree en hulpverleningsentrums ingerig het waar sulke ontwrigte mense op geordende wyse hulp en bystand kon ontvang.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines