ADVERTISEMENT:

 

Wyle dr. Dirk Jacobs.

Geliefde oud-distriksgeneesheer oorlede

 

News  Date: 05 October 2007

 

‘n Geliefde oud-distriksgeneesheer van Louis Trichardt, dr. Dirk Jacobs, is verlede week Woensdag in die Soutpansberg Private Hospitaal oorlede. Hy sou vandeesweek, op 4 Oktober, sy 86ste verjaardag vier. Die begrafnis was Maandag vanuit die NG Kerk Soutpansberg.

Wyle dr. Jacobs het in 1977 op Louis Trichardt aangekom as distriksgeneesheer en het vir baie jare, tot met sy aftrede, op die dorp gepraktiseer.

"Hy het ‘n vol lewe gehad en was bekend vir sy besondere respek vir sy medemens," het sy seun, Dirk Jacobs, gesê. "Hy was altyd beskikbaar vir mense en ek weet van niemand vir wie hy ooit te na gekom het of opsetlik seergemaak het nie."

Die dorp se gemeenskap was verlede jaar in April aanvanklik geskok om te verneem van ‘n gewapende aanval op Dokter Dirk en Ma Vossie in hul woonhuis in Krugerstraat op Louis Trichardt. Die skok het in verbasing, verligting en toe bewondering oorgegaan, toe die aanval met welslae afgeweer is deur die onverskrokke optrede van die bejaarde dr. Dirk.

Die aanvaller, wat diefwering voor ‘n gastekamer se venster weggebuig het om toegang tot die huis te kry, het met pistool in die hand gevorder tot waar die egpaar die aand in hul gesinskamer na musiek gesit en luister het. Hy het geld geëis en toe verskeie skote probeer afvuur, toe dr. Jacobs rustig opgestaan en ferm op hom afgestap het met sy biltongmes in die hand. Die pistool het geweier om af te gaan en die rower het verskrik agteruit beweeg, omgespring en op die vlug geslaan. Die egpaar het ongedeerd daarvan afgekom.

Die aanval, wat een in ‘n reeks gewapende aanvalle kort na mekaar in dieselfde buurt was, het kort daarna bygedra tot die stigting van die Soutpansberg Dorpswag op Louis Trichardt.

Dr. Jacobs word oorleef deur sy eggenote, Vossie, sy twee seuns, Dirk en André wat in Boksburg woon, sy dogter Adi Robertson en verskeie kleinkinders en agterkleinkinders.

Die gesinslede het dank betuig aan almal ook vir talle boodskappe, belangstelling en deelname.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines