

ADVERTISEMENT:

News Date: 12 October 2007
Hoe ver sal ‘n mense gaan om ‘n ander se troetediere, wat vir die eienaar soos kinders in sy huis is, leed aan te doen deur die diere te probeer vergiftig?
Dit is die vraag waarmee Daniel en Cornelia Swanepoel van Louis Trichardt worstel nadat hul 7-jarige Chihuahua-hondjie Sondag skielik begin siek word het. Die hond is inderhaas na plaaslike veearts, dr. Pieter Loock gejaag.
Cornelia het vertel dat die drama Sondag omstreeks 12:00 begin het, toe haar seun Mario uit die kamer geroep dat hul hondjie, genaamd Rot, nie lekker is nie. Terselfdertyd het Mario met Rot die kombuis ingestorm.
Met Rot se aankoms by die veearts het dr. Loock dadelik die simptome herken as vergiftiging en medikasie is toegedien om braking te laat plaasvind. Volgens Cornelia het stukke vleis, asook klein balletjies, uitgekom.
Dr. Loock se vermoede was dat Timik, ‘n dodelik gifstof wat nie vrylik beskikbaar is nie, gebruik is om Rot mee te probeer vergiftig. Hy sê egter dat dit nie met sekerheid gesê kan word nie, aangesien slegs verdere duur toetse dit sal kan bepaal.
Vir die Swanepoel-gesin is dit ondenkbaar om te dink dat iemand so gewetenloos kan wees om van so dodelike gifstof gebruik te maak - en dit nog vir so ‘n klein hondjie. Mnr. Swanepoel het bygevoeg dat hul twee katte ook ‘n ruk gelede vergiftig is. Hy sê hy dra kennis van Timik, aangesien hy jare gelede geboer het en dat slegs ‘n klein inname van die gifstof selfs vir mense dodelik kan wees. Die Swanepoels het ook twee groter honde wat agter in die erf gehou word.
Dr. Loock het aan die Zoutpansberger gesê dat hy bewus is van vorige gevalle waar mense se diere vergiftig is. Dit, sê hy, kan kwaadwillig of per ongeluk gebeur. Dr. Loock sê die feit dat Rot nog lewe is net te danke aan sy eienaars se vinnige optrede. Hoewel die hondjie buite gevaar is, is dr. Loock van mening dat daar tog nagevolge kan wees en dat Rot se ingewande beskadig kan wees.
Dr. Loock het gesê dat inwoners vinnig moet let op die simptome van vergiftiging en dadelik sterk soutwater moet toedien om braking te bewerkstellig. Verder is dit ook belangrik dat die diere so gou moontlik by ‘n veearts uitkom. Die simptome van vergiftiging sluit in uitermatige afskeiding van speeksel, bewerasie, stuiptrekkings, asook vernoude pupille.

ADVERTISEMENT:
