ADVERTISEMENT:

 

Quinton Snyman met die ou, gemufde filters wat uit die membraanlose watersuiweraar van RO Waterworld uitgekom het.

Nog inwoners kla oor RO Waterworld se “stukkende watersuiweraars” en swak diens

 

News  Date: 12 October 2007

 

Die onlangse berig oor RO Waterworld van Polokwane en eienaar Jaco van der Merwe se kommentaar het wye reaksie uitgelok, met ander inwoners van Louis Trichardt wat nou ook oor die betrokke onderneming kla.

Die oorspronklike klagte teen RO Waterworld, waaroor berig is, was dat dienslewering wat in ‘n kontrak beloof is, onbevredigend of glad nie nagekom is nie. Mr Van der Merwe het hierop gesê die klaer, Quinton Snyman, het wel diens ontvang, maar dat die waarborg verval het, aangesien Snyman glo aan die drade gepeuter het. Snyman het op sy beurt volgehou dat hy nooit aan die watersuiweraar geraak het nie en dat dit nog elke keer een van RO Waterworld se tegnici was, indien hulle sou opdaag.

Kort ná die plasing van die vorige berig het ander inwoners, soos Chris Cohen, beweer dat hulle ook probleme met Van der Merwe opgetel het. Cohen sê hy het destyds ‘n watersuiweraar by Van der Merwe aangekoop, wat inderwaarheid net die skelet van die ding was, aangesien sy membraan nooit geïnstalleer is nie. Hy sê ná ‘n hewige gesukkel met dienslewering is daar op die ou end besluit dat hy eerder sy geld wil terug hê en dat Van der Merwe die watersuiweraar moes kom terugvat. Hy sê dit is egter nooit gedoen nie. Hy het die saak toe maar daar gelaat, maar met die verskyning van die berig het hy besluit om sy stem dik te maak om te voorkom dat ander lede van die publiek dieselfde as hy oorkom. Cohen sê die watersuiweraar wat aan hom verkoop is, was nie nuut nie, aangesien hy met die oopmaak van die apparaat gesien het dat dit binne geroes was. Dit is egter vreemd, aangesien die suiweraar nooit gewerk het nie en dat dit in ‘n stoor staan.

Maria Ferreira, ‘n oud -inwoner van Levubu, het verlede week die Zoutpansberger vanaf Tzaneen geskakel, waar sy tans woon. Sy sê sy was ook ‘n slagoffer van RO Waterworld deurdat sy as een van sy agente begin werk het. Verder het sy ook dokumentasie en ‘n kontrak tussen haar en RO Waterworld aan die Zoutpansberger verskaf as bewyse van haar probleme met RO Waterworld. Mev. Ferreira sê sy het op 1 September verlede jaar reageer op ‘n advertensie van RO Waterworld, waarin agentskapskantore geadverteer is. In die advertensie is sowat R35 000 as begin-kapitaal vereis, met beloftes dat kantoortoerusting sowel as brosjures wat verskaf sou word.

Volgens mev. Ferreira het sy van die begin af gesukkel om al die toerusting wat aan haar belowe is te verkry en het met ‘n rekenaar gesit wat sy nie kon gebruik nie. Sy sê sy is herhaaldelik belowe dat die probleem opgelos sou word. Verder het sy ook begin om die watersuiweraars te bemark en het dit ook verkoop. Sy sê die geld is by mnr. Van der Merwe inbetaal, maar die goedere is nooit gelewer nie.

Volgens Ferreira word sy ook deur ongelukkige kliënte geskakel, wat haar verantwoordelik hou vir die terugbetaling van hul geld. Sy sê sy is haar R35 000 kwyt sowel as R5 000 aan kommissie wat sy sou kry.

Intussen het mnr. Quinton Snyman ook weer met verdere inligting geskakel. Volgens hom het hy nou maar besluit dat hy die waarborg gaan verbeur en tog aan die suiweraar sal laat werk. Hy het ‘n ander onderneming in Polokwane geskakel en hulle het die watersuiweraar kom oplaai en herstel. Volgens die onderneming se verslag is ‘n foutiewe draadkoppeling bevestig en is ook bevind dat daar nie ‘n hoëdruk skakelaar was nie, en dat dit die rede was waarom die suiweraar aanhoudend bly lek het. Die filters het ook erg gemuf gelyk en, volgens die toetslesing met die apparaat in sy oorspronklike toestand, het dit die gehalte van die getoetste munisipale water inderdaad verswak. Daar is verder bevind dat die membraanhouer leeg en pype verkeerd gekoppel was. In die verslag is ook beklemtoon dat die suiweraar nie buite mag staan nie, maar onder die wasbak geïnstalleer moet word. Die totale bedrag vir die herstel van die suiweraar het sowat R1 455 beloop. Volgens Snyman het die onderneming hom net vir die filters laat betaal en nie vir die herstelwerk nie.

Mnr. Snyman sê hy was geskok toe hy die waterlesings in die verslag gesien het.

"Die water wat deur die raad voorsien word se lesing is 183, wat standaard is. Die lesing met die suiweraar voor die diens was egter 198 en nie die 31 lesings soos wat dit moes gewees het nie. Dit is skokkend dat ons sulke water moes drink."

Volgens verdere bewerings het die plaaslike tak van ‘n bekende nasionale kettinggroep op die dorp ook oor ‘n watersuiweraar sonder ‘n membraan beskik wat hulle deur ‘n ander onderneming moes laat regstel.

Die Zoutpansberger het Woensdag, 10 Oktober, in ‘n telefoniese gesprek met mnr. Van der Merwe die jongste klagtes aan hom gestel vir sy kommentaar.

Hy sê hy is moeg vir die klagtes en sê dat dit ‘n swartsmeer-veldtog is van mnr. Snyman. Van der Merwe is steeds van mening dat Snyman sy eie suiweraar probeer diens het. Verder het mnr. Van der Merwe gesê dat hy jammer voel vir die mense by wie hy nie dienste gelewer het nie, aangesien hy reeds ‘n geruime tyd die besigheid toegemaak het.

Hy het gesê dat die mense nou van ander besighede gebruik moet maak, aangesien hy ‘n werksaanbod in Pretoria aanvaar het. Wat die klagte van mev. Ferreira betref, het Van der Merwe gesê dat sy die franchise aanvaar het en toe dit nie vir haar winsgewend geword het nie, het sy haar geld terug gevra. Volgens Van der Merwe was die rekenaar splinternuut en het hy dit self by mev. Ferriera op Levubu geïnstalleer en al die nodige sagteware aan haar verskaf.

Van der Merwe het gesê die klagte van geen membrane nie is onwaar, aangesien hy dit voor die betrokke klaers uit dose verwyder het en dit in die watersuiweraar geïnstalleer het.

 

Written by

Riaan de Swardt

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines