

ADVERTISEMENT:

News Date: 12 October 2007
Die stigting van ‘n dorpswag, om behulpsaam te wees met die bekamping van misdaad en die beskerming van inwoners van Musina, word nou oorweeg as ‘n regstreekse antwoord op die noodroep van ‘n onlangse misdaadslagoffer op die dorp.
Verkennende gesprekke is reeds gevoer tussen individuele gemeenskapsleiers op Musina en op Louis Trichardt met die oog op die moontlike stigting van ‘n dorpswag. Aanvoorgesprekke via die Gemeenskapspolisiëringsforum op Musina word ook in die vooruitsig gestel om uit die staanspoor konstruktiewe samewerking tussen die te stigte dorpswag en die plaaslike SAPD te vestig in die stryd teen misdaad. ‘n Formele gemeenskapsvergadering word beoog, waarop verteenwoordigers van die Soutpansberg Dorpswag beskikbaar sal wees om tersaaklike inligting en leiding te gee met die stigting van Musina se eie dorpswag. ‘n Geskikte datum moet nog bepaal word vir dié byeenkoms.
Hierdie ontwikkeling is een van die regstreekse gevolge van die onlangse opspraakwekkende aanval op ‘n egpaar in ‘n woonbuurt op Musina.
Die nagtelike aanval, waarin ‘n bejaarde egpaar in hul woonhuis deur twee gewapende mans aangeval, beroof en ernstig fisies en emosioneel getraumatiseer is, het ‘n emosionele skokgolf veroorsaak wat tot ver buite die grense van die Limpopo provinsie uitgekring het. Spesiale berading vir die egpaar en lede van die gesin word op deurlopende grondslag deur kundige kerklike beraders aan die gesin beskikbaar gestel. Die man en die vrou ontvang ook nog steeds mediese nasorg.
In ‘n telefoniese gesprek met die ernstig- getraumatiseerde vroulike slagoffer van die aanval, het sy ‘n ernstige beroep op die gemeenskap gedoen om "wakker te word en te besef wat besig is om te gebeur."
Die vrou is ‘n gerespekteerde, meelewende lidmaat van haar gemeente op Musina en neem gereeld aktief deel aan die barmhartigheidsuitreikprojek van haar gemeente, om kos en klere aan behoeftiges en ontwrigte Zimbabwiërs beskikbaar te stel. Volgens bewysstukke wat die polisie op die misdaadtoneel gevind het, was die aanvaller van die vrou en haar man moontlik uit een van Suid-Afrika se buurstate afkomstig.
Dr. Johan van Rensburg van Louis Trichardt, wat ook optree as berader vir die betrokke gesin, het by die vrou se oproep aangesluit en gesê die traumatiese voorval beklemtoon weereens dat alle verantwoordelike lede van die gemeenskap moet saamstaan en moet begin vra: Hoe kan ek betrokke wees by die bekamping van misdaad?
"Dit is maklik om te verval in die aanvaarding dat geweldmisdaad bloot met ander mense gebeur. Om misdaad effektief te bekamp moet ons almal paraat wees. Terwyl ons bid vir beskerming teen die bose moet ons ook bereid wees om saam met mekaar aktief betrokke te wees by die bekamping van misdaad," het hy gesê.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
