

ADVERTISEMENT:

News Date: 19 October 2007
‘n Enkelouer van Louis Trichardt, die 34-jarige mev. Elize Joubert, het haar verlede Woensdag, 10 Oktober, skielik vrou-alleen tussen sowat 50 verdagtes by die plaaslike polisieselle bevind, nadat sy by haar werk gearresteer is oor ‘n beweerde "onbetaalde" verkeerskaartjie.
Elize, bestuurderes by die Sheet Street-tak hier, vertel dat sy in die stoorkamer was, toe haar personeel vir haar kom sê het daar wag ‘n verkeersbeampte vir haar voor in die winkel.
"Ek het vorentoe gestap en die verkeersbeampte het my meegedeel dat ek onder arres is en dat ek my dinge so moes reël dat ek dadelik saam met hom kon gaan. Eers het ek gedink iemand maak ‘n grap met my, maar die man was ernstig. Dit was ‘n absolute ongemaklik situasie … ek kan nie vir iemand beskryf hoe dit gevoel het nie," sê Elize.
Die lasbrief vir haar arrestasie is uitgereik na aanleiding van ‘n verkeerskaartjie wat sy ‘n paar maande vantevore ontvang het. Sy verduidelik dat sy buite die dorp bly en dat haar voertuig in ‘n stadium onklaar geraak het. Sy moes uit nood een aand ry en het haar ma se voertuig geleen. Sy was onbewus dat een van die ligte nie werk nie. Elize is voorgekeer deur verkeersbeamptes en summier ‘n boete van R500 uitgereik, ten spyte van haar verduidelikings. Sy het egter gevoel sy het ‘n sterk genoeg saak en ‘n vertoë gerig om die kaartjie te kanselleer, wat wel gebeur het. Ten spyte hiervan is daar egter ‘n paar maande later steeds ‘n lasbrief vir haar arrestasie uitgereik.
Elize is voor haar stomgeslaande personeel in arres geplaas. Sy is toe saam met die verkeersbeampte daar weg.
"Ek het gedink ons gaan aanklagkantoor toe, maar tot my skok is ek direk polisieselle toe geneem. Die feit dat ek vir die verkeersbeampte en ‘n polisieman verduidelik het dat die kaartjie teruggetrek is, het op dowe ore geval," sê Elize.
Gelukkig vir haar kon Elize haar ma in die hande kry.
"Ek het gevra of ek net vir my ma kan wag, maar die polisieman het sonder enige simpatie vir my gesê my ma kan maar vir my in die selle kom kuier. Hulle het doodeenvoudig voortgegaan om my by die selle in te boek," sê Elize.
Intussen kon Elize se ma daarin slaag om met mnr. Reyno Mostert (beheeraanklaer) by die plaaslike hof in aanraking te kom. Mostert het dadelik ingegryp en aan die verkeersbeampte en polisie verduidelik dat die kaartjie gekanselleer is. Op nommer 99 kon daar geslaag word om Elize uit die selle te hou, maar dit was ‘n nare ondervinding wat Elize lank sal bybly.
"As ek nie my ma in die hande kon kry nie, was ek in groot moeilikheid. Wat van my twee kinders by die kleuterskool? As hulle my toegesluit het en ek is verkrag, wie se skuld was dit dan?" sê Elize. Haar raad aan ander inwoners is om aan te dring op ‘n afskrif indien ‘n verkeersboete teruggetrek word. Of sy verder regsaksie oorweeg ten opsigte van haar onwettige arrestasie, sê sy: "Ek was by ‘n prokureur maar hulle het vir my gesê ek moet dit maar liewers los. Dit is blykbaar baie moeilik om die Staat aan te vat en ek het in elk geval nie geld vir ‘n lang en uitgerekte hofsaak nie."
Elize het hoë lof vir Mostert se professionele optrede.
"Hy het selfs ‘n brief aan my werkgewers geskryf waarin hy meld dat die arrestsie onregmatig was as gevolg van ‘n administratiewe fout."
Die Zoutpansberger het na Elize se nare ondervinding gaan uitvind of ‘n persoon sommer so summier in die polisieselle geggooi kan word weens, in hierdie geval, die beweerde nie-betaling van ‘n verkeersboete. Volgens ‘n plaaslike regskenner kan ‘n persoon toegesluit word, MAAR as daar gekyk word op die lasbrief word daar ook aangedui dat die beskuldigde in die saak die opsie het om dadelik die boete te betaal. Beide opsies MOET aan die beskuldigde gebied word, wat in hierdie geval nie gebeur het nie. Die boete wat betaal moet word het ook niks te doen met die aanvanklike verkeerskaartjie nie, maar is ‘n boete ten opsigte van die minagting van die hof deur te versuim om te verskyn.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
