

ADVERTISEMENT:

News Date: 19 October 2007
Die Soutpansberg Toerisme- en Bemarkingsvereniging (Soutpansberg Tourism and Marketing Association) het besluit om te ontbind.
Op sy jongste jaarvergadering, verlede Donderdag, is besluit dat dit nie sinvol is om die vereniging se bedrywighede op die huidige grondslag en in sy huidige formaat voort te sit nie. Die vergadering het besluit dat die vereniging moet ontbind en dat daar na alternatiewe maniere gekyk moet word om na die belange van die Soutpansbergstreek in die algemeen en na belangstellende rolspelers in die toerisme- en gasvryheidsbedryf in die besonder om te sien.
Uit die voorsittersverslag het dit duidelik geword dat die voortreflike werk wat die vereniging (STMA) aanvanklik vir sy lede gedoen het, gekniehalter en gepootjie is en heeltemal tot stilstand gebring is nadat dit as onafhanklike organisasie sy gewig probeer ingooi het in die gesamentlike Makhado en Vhembe toerisme bemarkingsinisiatief, wat op munisipale en provinsiale vlak beheer word. Die verslag meld dat die STMA se insette en pogings tot samewerking nie net bemoeilik en gemarginaliseer is in die gesamentlike poging nie, maar met openlike vyandigheid geïgnoreer en selfs aggressief afgewys is deur die Makhado, Vhembe en Limpopo-verteenwoordigers.
Die STMA het baanbrekerswerk vir toerisme in die Soutpansbergstreek gedoen, vanuit sy eie administratiewe- en inligtingskantoor wat langs die N1 in die Safari-motorkompleks en by die hooflyn bushalte gesetel was. ‘n Eie webtuiste en voltydse betaalde funksionaris was in die kantoor beskikbaar om inligting per e-pos, telefoon of persoonlik aan belangstellendes oor te dra. Die Louis Trichardt Munisipaliteit het aanvanklik van die geld wat hy begroot het vir ‘n eie inligtings- en reklamebeampte bygedra tot die vergoeding van die STMA se funksionaris. Die voormalige Louis Trichardt Munisipaliteit het geoordeel dat die STMA die werk beter doen as wat ‘n munisipale funksionaris vanuit die munisipale kantore kon doen.
In die nuwe bedeling is dié munisipale steun gestaak.
Met behulp van die provinsiale departement van toerisme en bemarking is ‘n volledige toerismesentrum beplan en opgerig op grond wat die Makhado Munisipaliteit in die Boompark langs die N1 op Louis Trichardt beskikbaar gestel het. In die verwagting dat die gesamentlike bevordering en bemarking van toerisme voortaan vanuit dié sentrum behartig sou word, het die STMA sy inligtingskantoor in die Safari-sentrum ontruim en al sy kantoortoerusting en telefoon na die nuwe sentrum laat oorplaas. Toe die nuwe sentrum beman moes word, is die STMA meegedeel dat daar nie ruimte vir sy funksionaris beskikbaar was nie. Herhaalde aanbiedings van die STMA om behulpsaam te wees met bemanning en die verskaffing van inligting by die sentrum, tesame met die bedryf van ‘n toerisme-georiënteerde koffiekroeg - waarvoor daar in die oorspronklike beplanning voorsiening gemaak is - is botweg geïgnoreer. Die STMA se telefoonnommer is deur die sentrum benut, totdat die STMA opgehou het om te betaal vir die telefoon waaroor hulle geen beheer meer gehad het nie. Die amptelike owerheidsbestuur by die sentrum het die telefoonnommer, wat met groot koste oor ‘n lang tydperk op alle reklame materiaal vir die streek bemark is, eenvoudig weens wanbetaling laat verval.
Vindingryke voorstelle wat deur die STMA ingedien is om aandag op die streek te vestig by die jaarlikse hoëprofiel toerisme Indaba in Durban, is sondermeer deur die Makhado- en Vhembe munisipale en die Limpopo provinsiale verteenwoordigers geïgnoreer. Toerisme rolspelers uit die Soutpansberg wat die Indaba bygewoon het, het hul uiterste teleurstelling uitgespreek oor die wyse waarop die streek daar voorgestel is en die uitstalling vanuit ‘n Soutpansberg perspektief as "absoluut niksseggend" en "pateties eensydig," beskryf. Daar is ook algemene teleurstelling met die ondoeltreffende funksionering van die Makhado toerisme inligtingsentrum onder sy huidige munisipale en provinsiale bestuur.
Die STMA het die hele situasie in oënskou geneem op sy jaarvergadering, wat Donderdag, 11 Oktober, in die Hanglip Bosbou-saal gehou is. Die vergadering het besluit dat die STMA in die huidige situasie in sy huidige formaat en met sy huidige werkswyse nie ‘n sinvolle bydrae kan lewer nie. Twee oplossings is aan die hand gedoen: Die vereniging behou sy bestaande struktuur, maar herdefiniëer en herposisioneer homself in sy mark, of, alternatiewelik, die vereniging ontbind homself, en laat dit oor aan ‘n nuut-te-stigte entiteit om toerisme in die Soutpansbergstreek te bevorder. Die vergadering het gestem om die Soutpansberg toerisme- en bemarkingsvereniging te ontbind. ‘n Komitee is aangewys om dié besluit op ‘n verantwoordelike wyse uit te voer.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
