

ADVERTISEMENT:

News Date: 19 October 2007
Timothy Amos Muhwandavaka (21) is Woensdag, 3 Oktober, 35 jaar gevangenisstraf opgelê in die streekhof op Louis Trichardt nadat hy skuldig bevind is op ‘n string klagte.
Muhwandavaka is onderskeidelik aangekla op klagte van huisbraak met die opset om te steel en diefstal, besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie, huisbraak met verswarende omstandighede, huisbraak met die opset om te roof en roof.
Die agt klagte teen Muhandavaka hou verband met misdade wat gepleeg is tussen 19 November 2004 en 1 Februarie 2006, beide op plase en in die dorpsgebied.
Die Staat is deur aanklaer Hilke Janse van Rensburg verteenwoordig. Dit is die eerste keer dat sy vir so ‘n swaar vonnis aansoek gedoen het.
Op die eerste klag van die onwettige besit van ‘n vuurwapen en ammunisie is Muhandavaka 10 jaar tronkstraf opgelê. Op die twee klagte van huisbraak met die opset om te steel en diefstal is hy onderskeidelik tot ‘n verdere agt en twee jaar gevangenisstraf gevonnis, met ‘n verdere 15 jaar vir huisbraak met die opset om te roof met verswarende omstandighede. Op ‘n tweede klag van die onwettige besit van ‘n vuurwapen is Muhandavaka tot nog vyf jaar gevangenisstraf gevonnis, wat saam met die eerste 10-jaar vonnis uitgedien sal word. Muhanddavaka sal egter slegs 25 jaar van sy 35 vonnis uitdien, aangesien dit die maksimum tydperk van gevangenisstraf is wat deur korrektiewe dienste toegelaat word.

ADVERTISEMENT:
