

ADVERTISEMENT:

News Date: 26 October 2007
‘n Gesamentlike veiligheidsmag van nagenoeg 50 man was na bewering op versoek van die Musina Munisipaliteit betrokke by ‘n beweerde agt-uur-lange intimidering van twee werkers van ‘n reklame onderneming wat ‘n wettige advertensie op ‘n reklamebord op Musina probeer herstel het, nadat die aanvanklike advertensies glo vroeër hardhandig deur die munisipaliteit verwyder is.
Die bord is digby die sentrale sakesentrum van Musina, langs die ou spoorwegkruising geleë en strategies geplaas vir verkeer wat die dorp se sakesentrum vanuit die noorde binnekom. Die bewoording, wat nog sigbaar is op die reklamemateriaal is, lees: "We know why you are in South Africa. LIFE IN ZIMBABWE IS MURDER THESE DAYS. Just remember your country still needs you. Come home at election time and VOTE for FREEDOM." Die woord "freedom" is gedeeltelik vernietig op die beskadigde plakkaat.
Die twee werkers is na bewering geboei, na die polisieselle op Musina geneem en vir meer as agt uur lank geïntimideer deur lede van die polisie en weermag wat met ‘n vloot voertuie opgedaag het waar hulle besig was om die advertensiemateriaal te herstel. Die voorval het nasionaal opspraak gewek en ‘n vraagteken geplaas oor die owerhede op Musina se motiewe agter hul optrede, veral gesien in die lig van die huidige politieke situasie in Zimbabwe.
Die reuse reklamebord behoort aan die onderneming Outdoor Network, met takke in alle dele van die land en word reeds vir etlike jare al, met die amptelike goedkeuring van die Musina Munisipaliteit, gebruik vir die vertoon van reklamemateriaal van Outdoor Network se kliënte. Die reklamemateriaal word vir ‘n vooraf-vasgestelde kontraktydperk vertoon en dan vervang. Die vorige adverteerder op die reklamebord was Phala Phala FM. Met die verstryking van dié materiaal se kontraktyd, het die onderneming Red Dot Branding van Centurion opdrag ontvang om die nuwe grafiese materiaal, wat in opdrag deur hulle vervaardig is, op die bord aan te bring.
Drie dae nadat die nuwe materiaal aanvanklik op die bord aangebring is, is berig ontvang dat dit afgeskeur is. Red Dot het opdrag van Outdoor Network ontvang om die duur, beskadigde materiaal te vervang. Twee werkers van Red Dot was die betrokke oggend besig om dié opdrag uit te voer, toe ‘n persoon, wat vermoedelik ‘n senior verteenwoordiger van die Musina Munisipaliteit was, opdaag en hulle beveel het om die nuwe materiaal te verwyder, aangesien dit onaanvaarbaar is vir die munisipaliteit. Volgens ‘n woordvoerder van Red Dot het die twee geweier en met hul werk voortgegaan. Hulle is toe glo gedreig dat hulle in hegtenis geneem sou word. Die vermeende senior funksionaris van die munisipaliteit het daarop die polisie ontbied. Volgens die woordvoerder het nagenoeg 30 polisiebeamptes in drie minibusse en sowat 20 lede van die Weermag kort hierna op die toneel opgedaag en hulle verbied om met hul werk voort te gaan. Hulle is na die polisiestasie gebring, waar hulle volgens die woordvoerder in boeie na die aanhoudingselle geneem is. Hul voertuig met duur toerusting is intussen onbewaak op die perseel by die reklamebord gelaat.
Pogings van Red Dot se bestuur om met die SAPD op Musina te onderhandel vir die vrylating van die twee werkers is aanvanklik botweg afgewys. ‘n Senior verteenwoordiger van Red Dot het by navraag gesê die polisie op Musina het geweier om te sê op watter aanklag sy personeellede aangehou word en ook geweier om hom toe te laat om met sy twee werkers te praat. Die polisie het, volgens hom, sy navraag kortgeknip en daarna bloot geweier om verdere oproepe te antwoord. Een van die werkers is later toegelaat om onder polisiebegeleiding die maatskappy se voertuig en toerusting na die polisiestasie te bring.
Hy sê die twee is ná langdurige ondervraging teen omstreeks 18:00 die namiddag vrygelaat.
"Hulle is deur die polisie geïntimideer en verbied om na die reklamebord terug te gaan om hul werk te voltooi. Hulle is gedreig met verdere gevolge indien hulle sou probeer om die reklamebord verder te herstel," het die woordvoerder gesê.
Op ‘n vraag watter optrede Red Dot aangaande die voorval beoog, het die woordvoerder gesê sy onderneming beoog geen verdere aksie in dié verband nie. Die koste vir die vervanging van die materiaal is vir die rekening van Outdoor Network. Aangesien die voorval duidelike politieke ondertone ontwikkel het, verkies Red Dot om homself uit die geskil uit te hou. Red Dot sal egter voortgaan met die herstel van die reklamebord, as hulle opdrag kry om dit te doen. Die twee erg-getraumatiseerde werknemers het intussen op hul eie regsadvies ingewin oor die gedrag van lede van die veiligheidsmagte op Musina.
Die Gautengse direkteur van Outdoor Network, wat vir die reklamebord op Musina verantwoordelik is, was vandeesweek in die buiteland en nie beskikbaar vir kommentaar nie.
Superintendent Frans Mojapelo, provinsiale woordvoerder van die SAPD in Polokwane, het by navraag bevestig dat die polisie op die betrokke dag deur die Musina Munisipaliteit ontbied is met ‘n klag dat mense besig is om sonder toestemming reklamemateriaal aan te bring. Hy sê dit is aanvaarde prosedure vir die SAPS om sulke oortredings van munisipale ordonnansies te ondersoek as die munisipaliteit self die klaer is. Mojapele sê die polisie het die aangeleentheid gaan ondersoek en die betrokkenes na die polisiestasie geneem vir roetine ondervraging, waarna hulle vrygelaat is aangesien die munisipaliteit nie ‘n formele klag wou lê nie.
Mojapelo het ontken dat die mans in hegtenis geneem is.
"We just sort of took them to the police station for routine questioning," het hy gesê. Op ‘n vraag of die aksie om mense te boei, hulle na die polisie selle te neem en eers ná bykans nege ure vry te laat, nie neerkom op arrestasie nie, het Majapelo gesê hy is nie ingelig oor die tydsduur van hul aanhouding of die bewering dat hulle geboei was nie.
Oor die beweerde groot getal polisiemanne en –voertuie wat op die toneel opgedaag het, het Mojapelo gesê die getal mense en voertuie wat na ‘n toneel gestuur word, word bepaal deur die omvang of erns van die beweerde misdaad. Dit is nie noodwendig, sê hy, dat al die voertuie en mense wat op die toneel op Musina opgedaag het vanaf die polisiestasie daarheen gestuur is nie. Mojapelo sê sommiges van hulle kon bloot op roetine patrollie daar gestop het. Dit sou heeltemal onvanpas wees om soveel mense en voertuie te ontplooi, aangesien twee mense wat plakkate opsit mos nie so gevaarlik is nie, het hy gesê.
Oor gerugte dat polisiebeamptes betrokke was by die verwydering van die oorspronklike reklamemateriaal, was Mojapelo se reaksie: "Dit is nie waar nie. Dit was die Munisipaliteit."
Die woordvoerder van die Musina Munisipaliteit, mnr. David Makobi, het by navraag gesê hy kan nie in hierdie stadium op vrae oor die munisipaliteit se beweerde betrokkenheid in die voorval reageer nie. Hy sê die munisipaliteit is besig met ‘n ondersoek om vas te stel presies wat gebeur het en sal ná afloop van die ondersoek ‘n nuusvrystelling aan die media beskikbaar stel.
"Ons hoor ‘n groot klomp stories en probeer nou uitvind wat werklik gebeur het." Oor bewerings aangaande die burgemeester se betrokkenheid, het mnr. Makobi gesê: "Sy was die betrokke dag glad nie eers op Musina nie."
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
