

ADVERTISEMENT:

News Date: 26 October 2007
Wat staan ‘n persoon te doen as jou plaas deur onwettige jagters geteiken word en die plaaslike polisie weier oënskynlik om die saak te ondersoek of die skuldiges aan die pen te laat ry.
Dit is presies wat mnr. Frikkie de Jager, eienaar van Castaro Lodge op ‘n wildplaas noord van Louis Trichardt, sê besig is om met hom te gebeur.
De Jager sê hy is moedeloos en weet nie meer wat hy nog moet doen om die onwettige jagters op sy plaas, asook die buurplase, vasgetrek en agter tralies te kry nie. Hy sê dit wil voorkom asof die polisie op Dzanani, in wie se verantwoordelikheidsgebied sy plaas lê, nie die sake wil ondersoek nie. Dit ten spyte van die feit dat van die jagters al op heterdaad betrap is met strikke en wildsvleis in hulle besit. Met die laaste groep wildstropers wat aangekeer is, het hy selfs ‘n foto van die verdagtes met die vleis in hul besit op sy selfoon geneem. In ‘n baie kort tydperk het hy al twee gemsbokke, twee vlakvarke, ‘n rooibok en ‘n koedoe verloor. Tientalle draadstrikke is ook al vanaf die plaas verwyder.
Maar ten spyte van die onwettige jagters wat aangekeer word, die vleis wat in hulle besit gevind word en selfs die selfoonfoto, sê De Jager dat die Dzanani polisie niks omtrent sy klagtes doen nie. Hy het al so ver gegaan om die polisie op Louis Trichardt te skakel vir hulp om die Dzanani polisie te omseil, maar wanneer die polisie opdaag, is dit maar net weer van Dzanani se polisiebeamptes.
"Wat maak mens as die mense by wie jy moet kla die mense is waaroor jy wil kla?" het De Jager gevra.
Omgewingsake se hulp is ook al ingeroep en daar is verdagtes op heterdaad betrap. Omgewingsake het egter geweier om een van die mans, wat tydens ‘n vorige insident al aangekeer is en deur die polisie as "mal" geklassifiseer, te arresteer. Die "mal" man is, volgens omgewingsake, sê De Jager, die polisie se verantwoordelikheid. Die polisie wou egter ook nie die man arresteer nie en nou loop die man nog vrylik op De Jager se grond en die buurplase rond.
"Nie eers my arbeiders wil naby hom kom nie, want hulle is bang vir hom," sê De Jager.
De Jager sê in gevalle waar verdagtes wel deur die polisie gearresteer word, beland die saak in die landdroshof op Dzanani en dit is net so frustrerend. Wanneer die saak moet voorkom, sê De Jager, word hy as getuie telkens gewaarsku om nie te versuim om vir die hofsaak op te daag nie. Maar wanneer die saak voorkom, is almal daar behalwe die verdagtes. Dan, sê De Jager, word die saak bloot uitgestel na ‘n latere datum sonder dat daar ‘n klag van minagting van die hof teen die verdagtes gemaak word of daar ‘n lasbrief vir hul arrestasie uitgereik word. De Jager sê dat hy geen meer vertroue in die land se polisie en regstelsel het nie.
Provinsiale polisiewoordvoerder in Polokwane Supt Frans Mojapelo het by navraag gesê dat De Jager se klagte ten opsigte van die polisie se swak dienslewering skokkend is en dat hulle dringend sal ondersoek instel na die beweringe. Hy het weereens die polisie se verantwoordelikheid uitgespel deur te sê dat die polisie verplig is om elke klagte deeglik te ondersoek en om ‘n dossier te open indien die klaer daarop aandring. Hy sê dat, indien daar in hul ondersoek bevind word dat die polisie versuim het om hul grondwetlike plig uit te voer, daar stappe geneem sal word om enige skuldige partye te vervolg.

ADVERTISEMENT:
