

ADVERTISEMENT:

News Date: 26 October 2007
Die Soutpansberg Toerisme en Bemarkingsvereniging (STMA) se besluit om te ontbind, word voorlopig teruggehou, ná ‘n vergadering tussen hul verteenwoordigers en dié van Limpopo Toerisme en Parke.
Die STMA se besluit om te ontbind volg op voortgesette onenigheid en selfs aggressiewe teenkanting wat ondervind is van die kant van die plaaslike Toerisme en Parke verteenwoordigers.
Kort nadat die nuus van die STMA se ontbinding die provinsiale kantore van Limpopo Toerisme en Parke bereik het, het die hoof uitvoerende beampte van Limpopo Toerisme en Parke, Bennie Boshielo, tesame met sy woordvoerder, Kgatla Ntlhekeng, na Louis Trichardt gekom om ‘n dringende vergadering met die lede van STMA te hou.
Volgens Boshielo is dit nie in die belang van Limpopo Toerisme en Parke as die STMA sou ontbind nie, aangesien die privaat persone ‘n belangrike rol speel in die bevordering van toerisme. Boshielo het verder gesê dat die STMA reeds baie ondervinding het met buitelandse toeriste en dat hul ontbinding die bedryf as ‘n geheel sal laat skade lei.
Op ‘n geslote vergadering is besluit dat die Limpopo Toerisme en Parke en die STMA ‘n poging sal aanwend om geskille uit die weg te ruim en ‘n poging sal aanwend om met mekaar saam te werk. Volgens Boshielo is die grootste probleem vir die twee instansies se kopsere swak kommunikasie, wat misverstande laat ontstaan het.
Daar is besluit dat die STMA ruimte in die Inligtingsentrum van Limpopo Toerisme en Parke op Louis Trichardt gegee moet word en dat die STMA se bekende telefoonnommer weer aan hulle toegeken moet word.
Boshielo het gesê toerisme moet nie polities wees nie, maar dat dit as ‘n instrument gesien moet word om die provinsie sowel as die land te bevorder en te ontwikkel. Hy sê die STMA moet met die streekbestuurder van Toerisme en Parke gesels en gesamentlik besluit presies waar die STMA by die inligtingsentrum geakkommodeer kan word.
Clare Girardin, verteenwoordiger van die STMA, het gesê hulle is baie positief ná die vergadering. Girardin het egter erken dat dit ‘n baie frustrerende proses was om by die oplossing uit te kom, maar dat hulle baie bly is dat dit nou bereik is. Sy sê sy hoop die plaaslike munisipaliteit sal ook sy deel doen en kommunikasiekanale tussen die partye meer doeltreffend sal behartig.

ADVERTISEMENT:
