ADVERTISEMENT:

 

‘n Paar meter van hierdie oop veld op die hoek van Munnik- en Joubertstrate af, waar die jong meisie in die foto stap, het twee booswigte op Teresa de Beer toegesak om haar selfoon te probeer afneem.

Vrou veg verwoed om selfoondiewe af te weer

 

News  Date: 26 October 2007

 

Dit gebeur seker nie dikwels dat booswigte hulle voorneem om ‘n selfoon af te neem en gefnuik word deur ‘n fyngeboude dame nie. Die polisie waarsku egter dat dit beter is om ‘n worsteling te vermy.

"Die Here het my bewaar, maar ek is nog geskok. Ek sien steeds daardie man se oë vol haat voor my," sê die dame wat Vrydagoggend, 19 Oktober, voorgelê is deur rowers in Munnikstraat.

Teresa de Beer, huismoeder van die plaaslike babahuis, het saam met haar kleindogter na ‘n kleuterskool in Munnikstraat gestap. Oorkant die AGS Kerk is daar ‘n bouery aan die gang. Langsaan is ‘n oop stuk grond op die hoek van Munnik- en Joubertstraat waar baie mense ‘n kortpad kies op pad dorp toe. Teresa het aan die kant van die bouery gestap, toe sy skielik voel dat iets nie reg is nie.

"Twee mans het na my aangekom en een het voor my en een agter my ingeval. My eerste gedagte was aan die kleintjie en ek het na die middel van die pad gehardloop. Daar was niemand anders in sig nie. Ek het net gedink ek moet wegkom van die oop veld voor hulle my daarin sleep," vertel Teresa.

Sy het egter gou agtergekom dat hulle haar selfoon wil gryp.

"Ek het ‘n geveg opgesit. Dit is die eerste keer in my lewe dat ek ‘n oulike selfoon besit en my dogter het dit twee weke gelede vir my as ‘n verjaarsdaggeskenk gegee. Hulle het my geslaan. Ek het geskree en gelukkig het daar ‘n motor verbygekom en hulle het gevlug."

Die kleinding was histeries toe sy by die skool aankom en haar ouma was so geskok sy kon nie ‘n woord uitkry nie. Iemand van die kleuterskool het haar vergesel. Ook maar goed, want die mans het haar weer ingewag, maar niks gedoen nie.

Die een aanvaller word beskryf as sowat 1.19 meter lank, skraal gebou en met ‘n besondere swart gesigsvel waarop littekens voorkom. Die ander een is lank en baie skraal. Hulle het nie Engels of Afrikaans gepraat nie.

Plaaslike polisiewoordvoerder kapt. Maano Sadiki het vandeesweek gesê dat die beste optrede in so ‘n geval is om nie in ‘n worsteling betrokke te raak nie.

"Gee maar voor dat dit nie pynlik is nie en moenie terugbaklei nie, want jy weet nie of jy gesteek kan word nie," het hy gesê en bygevoeg dat enige sulke voorvalle so gou moontlik by die polisie aangemeld moet word.

Sadiki het ook in die algemeen gesê dat dit nie wys is om deur verlate oop velde te stap nie. Hy het die publiek die versekering gegee dat die polisie hoë sigbaarheid handhaaf en dat die tolvrye nommer 10111 in gedagte gehou kan word. Hy het gesê dat die SAPD Makhado se stasie geskakel kan word by 015 519 4300. By ‘n navraag waarom daardie telefoon slegs aangehou lui het toe die nommer deur die media Dinsdag geskakel is, het Sadiki vanaf sy selfoon gesê dat hy nie weet wat daar verkeerd gegaan het nie, want die reël is dat die nommer net drie maal mag lui, dan moet die operateur dit beantwoord. Inwoners kan ook die Dorpswag se beheerkamer skakel by tel. 015 516 0567 of 015 516 5186 in ‘n noodsituasie.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines