

ADVERTISEMENT:

News Date: 02 November 2007
Die suurstofapparaat by die ongevalle-afdeling van die Louis Trichardt Gedenkhospitaal werk nie.
Dit was die ondervinding van ‘n jong asmapasiënt toe hy verlede week hulp by dié hospitaal gaan soek het. Om tot by die onklaar suurstofapparaat by ongevalle te vorder, was ook nie sonder probleme nie. Om uiteindelik verligting vir die sukkelende asemhaling te kry, het amper vier ure geneem, ten spyte daarvan dat hulle eerste in die ry was.
Op 24 Oktober, omstreeks 16:00, het die ouma en pa van die elfjarige Neil Duvenhage by die ongevalle-afdeling aangemeld, omdat Neil se asma-aanval saam met brongitis hulle geen ander keuse gelaat het nie.
Die eerste struikelblok was dat die lêer glad nie opgespoor kon word nie.
"Dit het vantevore ook gebeur dat die lêer vermis was en dat duplikate oopgemaak moes word. Op dié wyse is daar al drie of vier lêers in sy naam," sê Neil se ouma, mev. Annatjie Duvenhage.
Die persoon by ontvangs het aanvanklik verwag dat ‘n bedrag van R20 betaal moet word alvorens ‘n verdere lêer geopen word. Mev. Duvenhage het geweier en gesê dat die pasiënt se pa werkloos is. Uiteindelik is ‘n duplikaat lêer geopen.
By die ongevalle-afdeling is die verpleegpersoneel meegedeel dat die pasiënt asma het en sukkel om asem te haal. Die pasiënt het egter ure gewag sonder dat die verpleegpersoneel aan hom aandag gee.
"Die verpleegpersoneel het in ‘n groep gesit en gelag en gesels en te ete en drinke geniet. Intussen het hulle pasiënte wat ná ons gearriveer het, gehelp," sê pa Johan.
"Toe die dokter verbykom, het hy die susters uitgetrap oor daar nog nie suurstof aan die kind toegedien is nie. Hy het gesê dat dit vooraf gedoen moet word, voordat hy die pasiënt sien."
Die verpleegpersoneel het daarop die suurstof aan die pasiënt gekoppel en teruggegaan na hul groepsgesprek en verder gelag en gesels.
"Ek en Neil het agtergekom dat die apparaat nie werk nie en dit aan die verpleegpersoneel gaan sê," vertel Johan.
Die pasiënt is na die kindersaal geneem en aan die suurstofapparaat daar gekoppel, maar dit was dieselfde storie: die apparaat het nie na behore gewerk nie. Die reuk van vuil doeke in hierdie afdeling het ook niks gedoen om die pasiënt se toestand te verbeter nie. Die gesigsmasker wat gebruik is, was ook te klein.
Vir ‘n derde probeerslag is die pasiënt na die kraamsaal geneem en aan die suurstofapparaat daar gekoppel. Die gesigsmasker was ook te klein en die suurstof moes op volle volume gestel word om effektief te wees.
"Die dokter was in hierdie stadium teenwoordig en het die situasie as ‘a big problem’ beskryf," staan in die brief wat mev. Duvenhage aan die bestuurder van die hospitaal gerig het.
"Ek is van mening dat die feit dat ‘n pasiënt vir vier ure gelaat word sonder om suurstofbehandeling te kry, terwyl die verpleegpersoneel moet weet dat die besondere pasiënt wel suurstof moet kry, ‘n onaanvaarbare en lewensgevaarlike situasie skep. Ek vermoed dat die verpleegpersoneel wel geweet het dat die suurstofapparaat nie werk nie, daarom is dit nie onmiddellik aan die pasiënt gekoppel nie. Alternatiewelik was die personeel nie behoorlik opgelei nie of bloot nalatig," skryf mev. Duvenhage in die brief.
Die oorspronklike brief is op Maandag, 29 Oktober, per hand aan die kantoor van die bestuurder, dr. Tembu, oorhandig en ‘n afskrif daarvan aan die kommunikasiebeampte, mnr. Kutama. ‘n Lys van vrae vanaf die media insake die suurstofapparaat, die lêersisteem en die houding van die verpleegpersoneel is by dieselfde geleentheid aan beide kantore oorhandig. Teen druktyd is nog geen reaksie ontvang nie, ten spyte van herhaalde selfoonboodskappe.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
