ADVERTISEMENT:

 

Foutiewe lisensiekaarte veroorsaak steeds ongerief

 

News  Date: 02 November 2007

 

Die nuwe kredietkaart-grootte rybewyse het reeds verskeie kopsere veroorsaak. Dit wil nou voorkom asof baie van hulle foutiewelik uitgereik is.

Dit was die nare ontdekking van Linda Rossouw en haar man Eben, inwoners van Louis Trichardt.

Die probleem is ontdek toe Eben na die Makhado Munisipaliteit se lisensie-afdeling is vir die hernuwing van sy PDP (Publieke Vervoer Lisensie). Tot sy skok moes hy ontdek dit is makliker gesê as gedaan, aangesien sy lisensie ‘n verkeerde kode getoon het.

Eben is swaksiende en moet ‘n bril dra, maar instede van die kode 01 by beperkings, dui sy kaartlisensie ‘n 0 aan, wat beteken hy het nie enige beperkings nie. As gevolg hiervan het die beampte by die munisipaliteit geweier om hom verder te help. Hy moes hoor: "Jammer, u sal u oë moet gaan laat toets".

Dit was vir die Rossouw-egpaar nie net ‘n groot ongerief nie, maar ‘n nog groter skok. Met dié ontdekking het Linda haar lisensie ook nagegaan en, glo dit of nie, haar lisensie is ook foutief uitgereik.

Die egpaar wou dadelik by die munisipale beamptes weet waarom dit in die eerste plek verkeerd uitgereik is. Die antwoord hierop is dat daar in die begin so baie aansoeke was met die oorskakeling na kaartlisensies, dat dit nodig was om vinnig deur die werk te kom.

Op Dinsdag, 15 Oktober, was die Rossouw-egpaar weer by die munisipaliteit.

"Dit was amper asof die betrokke beampte ons nie wou help nie" het Linda gesê.

Die Rossouw-egpaar is aangesê om vroeg die betrokke oggend by die lisensie-afdeling te wees, sodat hulle oë getoets kan word. Die beampte wat oorspronklik 07:00 daar sou wees, het eers 08:15 opgedaag.

"Behalwe dat hy laat was, roep hy toe eers ander mense wat agter ons in die ry gesit het," sê Linda.

"Toe hy ons uiteindelik moes help, het die meneer vir my man gesê om sy bril af te haal, waarna hy sy oë moes toets. Ons was totaal verbaas, aangesien Eben niks kan sien sonder sy bril nie."

Volgens Linda is haar man se oë getoets en elke keer as hy vir die beampte sê dat hy niks kan sien nie, het die beampte ‘n glimlag oor sy gesig gekry.

"Dit was amper asof hy my man nou eers wou verneder," het Linda gesê.

Nadat die oogtoetse uiteindelik afgehandel is, is die Rossouw-egpaar aangesê dat hul lisensies nou na Polokwane geneem moet word, sodat dit daar verander kan word. Die proses sou egter ses weke lank duur.

Dit was egter onaanvaarbaar vir die Rossouw-egpaar, aangesien Eben se werk hom sou afdank as hy sonder ‘n publieke lisensie moes ry. Die egpaar het toe self aangebied om dit deur te vat Polokwane toe, maar die man by die munisipaliteit wou niks weet nie.

‘n Ander munisipale amptenaar het egter geluister na die gesprekke en het aangebied om dit binne ‘n week vir hul gereed te hê.

Behalwe vir die Rossouw-egpaar se probleem, wat nou opgelos blyk te wees, het Linda dit tog goed gedink om ander inwoners van die dorp te waarsku om seker te maak die inligting op hul kaartlisensies is korrek.

Mnr. Louis Bobodi, woordvoerder van die munisipaliteit, het in antwoord op die klagtes gesê dit is nie die munisipaliteit se skuld dat die kaarte verkeerd uitgereik is nie. Hy sê die Rossouw-egpaar kon dalk nagelaat het om te noem dat hulle swaksiende is tydens hul aanvanklike toetse, of dalk na die toetse begin het om ‘n bril te dra. Bobodi het ‘n beroep gedoen op inwoners van die dorp wat nog in die besit is van soortgelyke foutiewe lisensies, om dit dadelik onder die munisipaliteit se aandag te bring, sodat dit reggestel kan word.

 

Written by

Riaan de Swardt

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines